Twee Mans in Steenberg Doodgeskiet
CCN Verslaggewing
Kaapstad:– Die gemeenskap van Steenberg is weer in rou na nóg ‘n naweek van geweld, met verskeie skietvoorvalle wat regoor die metropool aangemeld was.
Twee van die voorvalle in Steenberg alleen.
Die Steenberg-polisie het Saterdag, 6 September 2025, omstreeks 21:20 op ‘n skietvoorval in Horstley Court gereageer. By hul aankoms het hulle die liggaam van ‘n 23-jarige man gevind wat verskeie skietwonde opgedoen het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens voorlopige inligting het die slagoffer saam met vriende geloop toe ‘n onbekende verdagte hom genader en op hom losgebrand het. Die aanvaller het van die toneel gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie.
Op Sondagmiddag, 7 September, omstreeks 17:30, is ‘n tweede voorval aangemeld. Maar hierdie keer op die hoek van Goodmanweg en Joe Marks-boulevard, nie ver van Horstley Court af nie. ‘n 32-jarige man is noodlottig gewond tydens dié aanval.
Volgens die polisie word Sondag se skietvoorval as bendeverwant beskou. Daar is egter nog geen direkte skakel tussen die twee voorvalle gevind nie.
“Ons is moeg vir die geweld, elke week is daar weer ‘n nuwe voorval. Wanneer gaan iets regtig verander?” sê ‘n inwoner van Steenberg wat verkies om anoniem te bly.
Die polisie doen ‘n beroep op enige persone met inligting om na vore te kom.
