’N twee maande oue baba is tans in die hospitaal en mag nie geïdentifiseer word nie.
CCN Nuus
HOUTBAAI:- ’N Hout Bay-pa van 21 word beskuldig daarvan dat hy sy baba seun geslaan en met ’n sigaret verbrand het om hom stil te kry.
Die baba word tans by die Red Cross Children’s Hospital behandel, en familie sê dat dokters vermoed hy kan ’n gebroke skedel opgedoen het.
Volgens die staat se verklaring tydens die eerste verskyning van die man by die Wynberg-landdroshof, het die voorval op Sondag, 9 November, plaasgevind. Die vader kan nie geïdentifiseer word nie, om die baba se identiteit te beskerm nie. Hy word aangekla van “assault to cause grievous bodily harm”.
Die staat het gesê: “Omstreeks 03:00 het die baba begin huil en die beskuldigde het gefrustreerd geraak, en die kind van sy moeder geneem en begin slaan. Hy het die baba op die rug en boude geslaan. Die moeder het die baba geneem en gaan lê.”
Toe die moeder die volgende oggend wakker geword het, het sy ontdek dat die baba verbrand is. Die baba se familie was emosioneel tydens die hofverskyning. Die staat wag tans vir ’n addisionele verklaring van die moeder, terwyl die borgtogsaansoek van die beskuldigde nog gevra sal word.
Die vader het aan die hof gesê hy sal die hulp van ’n Legal Aid-prokureur gebruik en die saak was uitgestel tot 19 November.
Buite die hof het die baba se familie gesê hulle roep vir geregtigheid. Nolan Williams, die neef van die moeder, en die oupagrootjie van die baba, Isaac Williams, het gesê:
“Hy is op die boude geslaan, met ’n sigaret in die gesig verbrand en hy het ’n knobbel aan die agterkant van sy kop. Dokters sê hy het moontlik ’n gebroke skedel. “As so iets met jou eie familie tref, voel dit anders.” “Ons wil geregtigheid hê, dit wat hy gedoen het was verkeerd, maar ons is egter dankbaar dat die baba nog lewe,” het ‘n familielid by die hof gesê.
Polisiewoordvoerder Kaptein FC Van Wyk het bevestig dat die vader op Sondag in hegtenis geneem is: “Die 21-jarige man het verskyn in die Wynberg-landdroshof. Die voorval het op 11 November om 03:00 in ’n woonstel in Die Sloot, Hout Bay, plaasgevind. Die kind word tans in ’n kinderhospitaal behandel” Die aanvanklike aanklag was poging tot moord.
Die Hout Bay Gemeenskaps Polisie Forum (CPF) sê hulle is diep geskok en ontsteld oor die voorval: “Die SAPS het vinnig opgetree, en die verdagte was dadelik in hegtenis geneem. Die saak word ondersoek deur die Familiegeweld-, Kinderbeskermings- en Seksuele Misdrifeenheid (FCS).”


