Bejaarde Vrou Ry in Skok Dwarsdeur Muur
Verslaggewer – George April
VELDDRIF:- ‘n Munisipale werker van Bergrivier munisipaliteit het vanoggend met die lewe daarvan afgekom , nadat ‘n voertuig hom op die sypaadjie met slegs ‘n paar sentimeters gemis het.
Die werker was besig om die sypaadjie skoon te maak, toe ‘n vroulike bestuurder, wat volgens ooggetuies ‘n ernstige suikerlaag (hipoglisemie-aanval) ondervind het, skielik beheer oor haar voertuig verloor het. Die voertuig het uit Protealaan, regoor Voortrekkerstraat, sonder om te stop of te rem, reguit oor die pad gejaag, dwarsdeur die munisipale vibracrete-muur gebars en teen ‘n boom vasgejaag.
CCN was was binne minute op die toneel en kon duidelik waarneem dat die bejaarde vrou in erge skok verkeer het. Munisipale kantoorwerkers en lede van die publiek het rondom die toneel, in die pad saamgedrom en hul skok en kommer uitgespreek, veral oor die bestuurder se toestand.
Die munisipale werker, wat sigbaar geskok was, het sy voorman ingelig en gesê hy gaan nie weer op daardie spesifieke plek werk nie. “Ek was byna dood,” het hy voor CCN aan sy voorman gesê. Hy het daarna voor die biblioteek, sowat 500 meter vanaf die ongelukstoneel, gaan sit om te kalmeer, waar die skok duidelik op sy gesig sigbaar was.
Law Enforcement het die toneel vinnig afgesper, terwyl die polisie kort daarna opgedaag het.
Tot almal se verligting het die vrou self, sonder hulp, aan die passasierskant uit haar voertuig geklim, by die erf uitgeloop en op die draagbaar van West Coast Medical Care geklim. Sy is daarna in die ambulans gelaai en na die Vredenburg Private Hospitaal geneem vir verdere behandeling en waarneming.
Alhoewel sy aanvanklik baie gespanne gelyk het, het sy teen die tyd van vertrek bedaarder voorgekom en kon sy sonder bystand op die draagbaar klim.
Daar was geen ander beserings onder omstanders of ander padgebruikers gerapporteer nie. Die oorsaak van die voorval word ondersoek, met spesifieke fokus op die bestuurder se mediese toestand ten tyde van die ongeluk.
CCN sal verdere ontwikkelinge rakende die voorval rapporteer.



