Verslaggewer – Isaac Cloete
Namakwaland:- Kan die Nama Khoi LFA skeur weens n “omstrede” verkiesing van die nuwe bestuur.
Verskeie sokkerklubs, spelers en hul klublede, sê nou openlik dat die verkiesing onkonstitusioneel en bedrieglik was. Volgens Ronnie “Haas” Claasen, van Benfica sokkerklub in Matjieskloof, het die verkiesing in November, 2025, plaasgevind.
“Ons was teenwoordig en het gesien wat daar gebeur het. Die ou bestuur was basies net so behou en hier en daar was nuwe gesigte bygevoeg.”
Claasen het verder driftig vertel dat daar al van September issues was oor uitstaande gelde wat klubs aan die Nama Khoi LFA (NK LFA) verskuldig was. Dit sou hulle toelaat om aan die verkiesing deel te neem, weens hulle goeie reputasie (being in good standing).
Simon Kleinbooi, voorsitter van die NK LFA, kon glo nie aan sokkerklubs verduidelik nie, wat “good standing” beteken. Selfs ander bestuurslede van NK LFA kon of wou ook nie, volgens Claasen.
Intussen was klubs versoek om nominasie-lyste te voltooi en in te handig voor die algemene jaarvergadering (AGM). Die datum waarteen klubs hulle skulde kon vereffen en die hou van die AGM was verskeie kere uitgestel was.
Op 22 November, 2025, het die AGM uiteindelik plaasgevind. Claasen het vertel dat 16 klubs uit die 26 vooraf al bespreek (lobby) het, wie hulle as bestuurslede op die NK LFA wou hê. Teen die einde van die AGM het Clive Bowers, die streeksverteenwoordiger van die LFA, uit die bloute uit, die nuwe bestuur bekend gemaak, het klubs verder gekla.
“Ons was geskok en het hom meegedeel dat ons per hand moes stem, volgens SAFA se grondwet.
“Bowers se antwoord was dat die bestuur klaar gekies was volgens die nominasie-lyste en so sal bly.”
Hierdie 16 klubs hulle later gewend tot die LFA Namakwa-streek, SAFA provinsiaal en nasionaal, sodat die verkiesing oor en reggedoen kan word. Hulle het selfs aan Lydia Monyepao, (SAFA nasionaal se CEO), n skrywe gerig om hul griewe te opper. Hulle wag egter nog steeds op n antwoord van die dame, volgens Claasen.
Intussen het Joshua Losper, (kies-afdelingskantoor: Patriotic Alliance) op Springbok ook tot die geveg toegetree. Volgens hom is hulle besig om die verkiesing van die nuwe bestuur van NKM LFA aan te spreek en uit te daag.
“Ons dink daar was manipulasie en voel dat dit oorgedoen moet word. “Wat ons sê, kan ons bewys.
Hy het ook genoem dat die Namakwa-streek (SAFA) vir Benfica FC R25 000 aan prysgeld skuld nadat hulle n toernooi in 2024 gewen het. Ander spanne word ook nog geskuld volgens hom.
Kleinbooi het vertel dat dit outyds is om met die hand te stem. “Ons het gehandel volgens SAFA nasionaal se grondwet en die sokker gaan voort.
“Die nominasies was 15-10 en die ouditeure kom lees dit gewoonlik net so af. “Mense moet die regte kanale volg en ook die anderkant van die storie vertel.” Volgens hom het Olympics FC van Okiep nie n nominasie-lys ingedien nie, maar altesame vyftien klubs het lede vir die huidige bestuur genomineer.
Sokkerliefhebbers hoop intussen dat daar oplossings en eenheid sal kom binne Namakwa se sokker, in plaas van tweespalt.


