Oor onreelmatighede met waterpompe
Verslaggewer – Isaac Cloete
Garies:- Die munisipale bestuurder van die Kamiesberg Munisipaliteit, Rufus Beukes, is weer onder die vergrootglas nadat die Valke ernstige onreëlmatighede met die aankoop van twee waterpompe ondersoek het.
Volgens die Valke se woordvoerder, Nomthandazo Mnisi, word beweer dat twee fakture vir waterpompe betaal is, maar dat die pompe nooit by die munisipaliteit afgelewer is nie.
Op 24 Januarie 2024 het Van Kay Algemene Handelaar ’n faktuur van R147 268 vir die verskaffing en aflewering van een waterpomp ingedien. Die faktuur is verwerk en betaal, maar die pomp is nooit afgelewer nie.
Op 4 April 2024 is ’n tweede faktuur van R128 500 deur dieselfde diensverskaffer ingedien. Hierdie faktuur is ook betaal, sonder dat die waterpomp afgelewer is. Die totale bedrag wat deur die munisipaliteit betaal is, beloop R275 768.
Die Valke beweer verder dat Beukes die betaling van albei fakture gemagtig het, ten spyte daarvan dat hy geweet het die pompe is nie afgelewer nie.
Verdagtes in die saak:
Van Kay Algemene Handelaar,
Harold Meyer, verteenwoordiger van Van Kay Algemene Handelaar en Vlootbestuurder by die Namakwa Distriksmunisipaliteit
Melvin Cloete, Speaker van die Kamiesberg Munisipaliteit
Rufus Beukes, Munisipale Bestuurder van die Kamiesberg Munisipaliteit
Die vier het op 21 Mei 2026 vir die eerste keer in die Garies Landdroshof verskyn.
Elkeen is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak was uitgestel tot 27 Mei 2026 in die Springbok Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof.
Vorige arrestasie
Dit is nie die eerste keer dat Beukes met die gereg te doen kry nie. In November 2024 is hy ook deur die Valke by sy werkplek in Garies gearresteer.
Hy word daarvan beskuldig dat hy as rekenpligtige versuim het om werknemers se pensioen- en mediese bydraes, asook die munisipaliteit se eie bydraes, tydig oor te betaal soos voorgeskryf deur Wet 24 van 1956.
Volgens Mnisi het die beweerde oortredings tussen September 2019 en April 2024 plaasgevind. Die laat of nie-betaling van bydraes het daartoe gelei dat rente reeds meer as R2 miljoen beloop.
Die Kamiesberg Munisipaliteit het nog nie op navrae oor die jongste saak gereageer nie.
CCN sal die hofsaak verder opvolg.
