In Houtbaai Konfiskeer
CCN Verslaggewer – Felicity Jooste
HOUTBAAI:- ’n 38-jarige man is Maandagoggend, 21 September, in Houtbaai in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes glo op groot hoeveelhede kreef, perlemoen, garnale en kreef-eiers beslag gelê het.
Die seelewe, met ’n geskatte straatwaarde van R500 000, is glo in plastieksakke in ’n groot vrieskas versteek.
Duiktoerusting en ’n skaal is ook gevind en gekonfiskeer.
Die verdagte is in hegtenis geneem vir ’n beweerde oortreding van die Marine Living Resources Act en sal na verwagting in die Wynberg-landdroshof verskyn. Die Departement van Landbou, Bosbou, Visserye en die Omgewing het die beslag gelêde items getel en bevestig.
Intussen het ‘n skietvoorval in Atlantis het na bewering die lewe van ’n 26-jarige man geëis, terwyl ’n tweede persoon ernstig beseer is.
Die oorledene is volgens voorlopige inligting geïdentifiseer as Edwin Booysen (26).
CCN Online het vanoggend inligting ontvang dat ’n bekende verdagte reeds in hegtenis geneem is, terwyl ’n tweede verdagte glo deur die polisie gesoek word.
Volgens die inligting wat aan CCN verskaf is, is die tweede verdagte glo in ’n Toyota Fortuner geïdentifiseer.
Daar word verder beweer dat die polisie reeds die afgelope ongeveer drie weke inligting ontvang het oor die moontlike betrokkenheid van die verdagte wat in hegtenis geneem is by ander skietvoorvalle.
CCN Online beklemtoon dat hierdie besonderhede tans as voorlopige inligting behandel word en dat ons wag op amptelike bevestiging van SAPS oor die omstandighede van die skietery, die arrestasie en die identiteit van die tweede verdagte.
Meer besonderhede sodra dit amptelik bevestig word.

