As ons nie self ’n plan maak nie, gaan ons kinders se toekoms buite ons hande val.
CCN Verslaggewing.
HOPEFIELD:- Vir jare lank word die meerderheid Hopefield-kinders aangery na skole in Vredenburg, Moorreesburg en ander dorpe.
- Dit was lank ’n praktiese oplossing.
- Dit is nie meer nie.
Die realiteit vandag is soos volg:
– Baie plaaslike kinders gaan al jare skool by Weston Senior Sekondêre Skool in Vredenburg.
– Vanjaar het kinders ook begin skoolgaan in Moorreesburg.
– Terselfdertyd kon baie Hopefield-kinders glad nie plek by enige skool kry nie.
– Kinders val uit skole omdat ouers nie meer die vervoerkoste van ongeveer R1 350 per maand (bus of taxi) kan bekostig nie.
– Met die rekord-hoë petrolpryse word die druk op gesinne net groter.
Die skole in Vredenburg en Moorreesburg het ook hul eie gemeenskappe om te bedien.
- Kapasiteit is beperk.
- Plekke is nie meer gewaarborg nie.
- En die koste, vervoer, skoolgeld en tyd, is vir baie Hopefield-gesinne ondraaglik.
Wat van Hopefield Hoërskool (HSH)?
HSH kan nie net al die plaaslike Graad 10-leerders inneem nie. Die skool bedien reeds die hele Weskus met busse en koshuise. Dit huisves kinders vanaf Graad R tot 12. Daar is wel plaaslike kinders wat van Graad R af by HSH skoolgaan, dus moet dieselfde leerlinge behou word om tot graad 12 te vorder.
Jare gelede was HSH byna leeg.
Kinders van ander dorpe is begin aanry juis om die skool te vul en oorlewing te verseker. Alhoewel dit ’n staatskool is, dra die skool verskeie uitgawes wat nie deur die staat gedek word nie. As HSH nou gedwing word om al die plaaslike Graad 10’s in te neem, sal daar nie genoeg plek wees vir die kinders wat van ander dorpe aangery word nie.
Die stelsel wat die skool al jare lank werkbaar maak, sal onder druk kom.
Daar is ’n praktiese, plaaslike voorstel op die tafel:
Hopefield Laerskool (HL) strek reeds tot Graad 9, en daar is genoeg grond beskikbaar. Die skool kan drie grade aanbou, Graad 10, 11 en 12 – sodat meer van ons eie kinders hier in Hopefield kan klaarmaak.
Dit is nie ’n wilde idee nie.
Dit is ’n korttermynoplossing wat kapasiteit, vervoerkoste en sekerheid direk aanspreek. Dit vereis befondsing, personeel en goedkeuring van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.
Maar dit begin met een ding: die gemeenskap moet dit ernstig bespreek.
Die groter prentjie op die Weskus
Die Weskus het ’n reuse tekort aan skole. Vredenburg en St Helenabaai is op die WKOD se begroting om nuwe skole in 2027 te kry. Intussen gaan Weskus-kinders selfs skool in Moorreesburg en Porterville, waar baie in die skole se koshuise bly. Hoe langer ons wag, hoe groter is die risiko dat deure vir Hopefield-kinders heeltemaal toeklap.
Ouers, hierdie is nie my persoonlike besluit nie.
As stigter van Hopefield Gemeenskapsforum sit ek hierdie voorstel voor omdat die huidige pad nie meer hou nie.
- Maar dit is julle kinders.
- Julle moet self die feite weeg, die vrae vra en die plan help vorm.
- Moenie net my woord vat nie.
- Kom sit self om die tafel.
’N gemeenskapsvergadering is reeds belê:
Datum: Vrydag 23 Oktober 2026
Plek: Thusongsaal, Hopefield
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is reeds skriftelik genader met die versoek dat ’n verteenwoordiger die vergadering bywoon. Hopefield Gemeenskap Forum sal dit ook besonder waardeer as die Beheerliggaam van Hopefield Laerskool die vergadering bywoon.
Verskeie vrae en bekommernisse is reeds deur gemeenskapslede onder die Forum se aandag gebring.
Hierdie vergadering is die geleentheid om dit openlik en konstruktief te bespreek.
Ouers moet daardie vergadering bywoon, nie net as toeskouers nie, maar in kapasiteit.
- Kom vra vrae.
- Kom luister.
- Kom praat oor grond, kapasiteit, koste en alternatiewe soos West Coast College.
Kom help om ’n werkbare pad vorentoe te bou.
- As ouers stilbly, bly die probleme groei.
- As ouers opdaag en deelneem, kan Hopefield self ’n oplossing maak.

