WORD BEVRAAGTEKEN
Verslaggewer – Isaac Cloete
AGGENYS:- Die verwagte terugkeer van President Cyril Ramaphosa na Aggeneys op Vrydag 16 Oktober 2026 om nog ‘n konsentrator-aanleg by Vedanta Zinc International in te huldig, laat ernstige vrae sonder antwoorde.
Dis die mening van Paul Swartbooi van National Economic Fighters (NEF)
Volgens hom is daar bewerings van massa-afdankings, uitbuiting van werkers, voorkeur-indiensneming van buitelanders, nie-betaling van plaaslike besighede en onvoldoende sosio-ekonomiese voordele vir omliggende gemeenskappe.
“Hoe kan ‘n maatskappy industriële uitbreiding vier terwyl dieselfde gemeenskappe wat sy bedrywighede huisves, steeds werkloosheid, ekonomiese swaarkry en uitsluiting beleef?” het hy gevra.
“Tydens die konstruksie van die konsentrator-aanleg is daar beweer dat meer as 350 Indiese burgers ingebring is, baie van hulle wat glo algemene arbeid en assistentiewe werk doen.”
Bronne het verder vertel dat werkers tydens die konstruksie-fase op ‘n plaas buite Aggeneys onder vernederende en uitbuitende toestande gehuisves was.
Terwyl Indiese werknemers glo akkommodasie, huurmotors en ander voordele kry, ry sommige Suid-Afrikaanse werknemers van die Namaland-streek meer as 300 kilometer per dag na en van die werk, terwyl hulle 12-uur-skofte werk.
In 2018 het president Cyril Ramaphosa die eerste fase ingehuldig met beloftes van beleggings en werk. Agt jaar later vra gemeenskappe in die Namaland-streek, in besonder KaiMa-area, waar die voordele is.
Swartbooi sê die NEF versoek die volgende:
1. Ondersoek na afdankings
2. Oudit van buitelandse indiensneming
3. Ondersoek na arbeidsuitbuiting
4. Hersiening van werknemerswelsyn
5. Oudit van uitstaande betalings aan plaaslike verskaffers
6. Evaluering van Vedanta se SLP-verpligtinge
7. Direkte gesprek met geaffekteerde gemeenskappe van Namaland-streek.
“Die ware maatstaf van Vedanta se sukses is nie die grootte van sy aanleg nie, maar die mate waarin sy bedrywighede die lewens verbeter van die mense wat in sy skaduwee woon,” betoog hy verder.
Hy het plaaslike inwoners versoek om op te staan en terug te vat wat aan hulle behoort.
- Julle verdien waardigheid en regverdige betaling.
- Julle verdien ekonomiese insluiting. Punt”
