Naby Kleinzee Bly Groot Raaisel
Verslaggewer – Isaac Cloete
’N klein vliegtuigie met ’n reuse besending kokaïen het glo die week naby Kleinzee geland en die raaisel word net groter.
Volgens betroubare bronne is 328,55 kg suiwer kokaïen met ’n geskatte straatwaarde van R197,13 miljoen van Brasilië af per klein vliegtuig in die Noord-Kaap ingevlieg. Die dwelms is later op ’n plaaspad naby Garies gevind. ’N Kaapse man, Lee Thompson (37) van die suidelike voorstede, is Woensdag 18 November gearresteer terwyl hy die besending in ’n bakkie Kaapstad toe vervoer het. Hy was glo van Namibië af op pad.
Thompson het aanvanklik aan die polisie gesê hy was onder die indruk dat hy goudstawe vervoer. Hy het Vrydag 20 November in die Springbok-landdroshof verskyn op aanklagte van besit en vervoer van dwelms. Sy formele borgtogaansoek is tot Donderdag 26 November uitgestel.
Blind in die Donkerte
Bronne sê die vliegtuig het “blind” – sonder radar – in die nag by Kleinzee geland. Die landingstrook is glo deur voertuigligte belig, en die vliegtuig het skuins te lande gekom. Van daar is die dwelms oorgelaai in die bakkie waarin Thompson later voorgekeer is.
Wat met die vliegtuig gebeur het ná die landing, is steeds onbekend. Niemand weet ook nog aan wie dit behoort het of vir wie die dwelms bestem was nie.
Kleinzee in die duister
Inwoners van Kleinzee is geskok en verslae. Sommige sê hulle het laasweek in die aand ’n vliegtuig sonder ligte gehoor land. Ander het ’n konvooi polisievoertuie by die ou Kleinzee-vliegveld gesien. Dit is algemene kennis dat die vliegveld lankal nie meer behoorlik in stand gehou word nie en eintlik nie meer geskik is vir sulke landings nie.
“Vernietig dit voor almal”
Gaob Paul Swartbooi van die National Economic Fighters wil weet waar die kokaïen nou geberg word. Hy vermoed dwelms word al lankal per skip of oor die water na die Kleinsee-kus gesmokkel.
“Die polisie moet die dwelms openlik, voor almal, vernietig. Ja, vir kameras, vir ’n landdros, en ’n telling hou voor en na dit. As dit nie gebeur nie, sal die dwelms ook kamstig wegraak – of dit kan eenvoudig net weer op ons strate beland.”
Polisie bly stil
Luitenant-kolonel Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke in die Noord-Kaap, sê hulle is bewus van die aangeleentheid, maar kommunikasie is beperk.
“Weens die sensitiewe aard van die ondersoek glo ons dat as ons enige verdere inligting gee, dit die saak kan belemmer. Ons sal op ’n geleë tyd ’n meer volledige verklaring uitreik.”
Intussen word dieselfde dag se arrestasie (18 November) ook in ’n groter internasionale konteks genoem. Brasiliaanse en Australiese owerhede het dié week ’n groot operasie teen “sky traffickers” _ smokkelaars wat klein vliegtuie gebruik – aangekondig. Suid-Afrika word as moontlike deurgangsplek genoem.
Die raaisel by Kleinzee is dus nog lank nie opgelos nie.
FOTO: Ter illustrasie


