Berig – CCN Redaksie
HOPEFIELD:- Waarom grootskaalse energie projekte ver van stede af gebou word, en waarom Hopefield dieselfde beskerming verdien.
In April 2020 het ’n ontploffing by ’n waterstofbrandstof-aanleg in Long View, Noord-Carolina, ’n hele gemeenskap geruk.
Sowat 60 huise is beskadig, vensters is gebars, en mense is binne hul huise van hul voete af geslaan. Alhoewel die maatskappy beweer het hulle het gevorderde veiligheidsisteme, wys die voorval duidelik: ongelukke gebeur – en dit is die gemeenskappe naby wat die prys betaal.
In Hopefield wek die beplande sonkrag-megaprojek, wat glo een van die vyf grootste in die wêreld, en die grootste in Afrika gaan wees , soortgelyke bekommernisse. Al lyk sonpanele onskuldig, sluit sulke reuse-aanlegte battery bergingseenhede, krag invoerders, hoë spanning substasies en netwerk verbindings in.
Alles met potensiële gevare, soos oorverhitting, kortsluitings, brande of selfs ontploffings moontlikhede. En in toestande soos warm winde of uiterste temperature, neem daardie risiko’s toe.
Alle inwoners kan getuig, Hopefield se temperature styg op warm dae meer as 40+ grade.
Regoor die wêreld word sulke aanlegte bewustelik ver van dorpe en stede gebou, dikwels tientalle kilometers weg van enige woongebiede, juis om mense te beskerm.
Waarom is Hopefield anders?
Waarom word so ’n reuse-aanleg so naby aan ‘n dorp gebou, in ’n dorpie sonder brandweer, sonder nooddienste, en waar armoede reeds ’n groot las is?
Die CCN redaksie is nie teen ontwikkeling, of teen skoon energie nie.
CCN verwelkom werkskepping, vaardigheids ontwikkeling, en vooruitgang, maar nie ten koste van ‘n ganse gemeenskap se veiligheid nie.
CCN doen ’n beroep op leiers, plaaslik en nasionaal, om te luister, verantwoordelik op te tree. Nie net om groot geld en groot beloftes na te jaag ten koste van gewone mense nie.
Beantwoord dan dié vraag. As dié projek regtig veilig is, hoekom nie, soos elders in die wêreld, dit ver van die dorp af bou nie?
Hopefield verdien dieselfde standaarde as die res van die wêreld, nie minder nie.
