Berig – George April
’N nag se uitgaan het in ’n nagmerrie ontaard vir twee mans toe hulle ’n geleentheid aanvaar het, net om in ’n afgeleë parkeerterrein by die Wolfgat Natuurreservaat naby Tafelsig in ’n lokval beland en geskiet te word.
Een man (30) is op die toneel dood aangetref nadat hy in die kop geskiet is, terwyl sy vriend – ook 30 jaar oud – wonderbaarlik oorleef het ondanks ’n skootwond aan die nek.
Die skokkende voorval het in die vroeë oggendure van Saterdag, 12 Julie 2025 net ná 04:00 plaasgevind.
Volgens polisiewoordvoerder Lt.Kol. Malcolm Pojie het die Mitchells Plain-polisie sake van moord en poging tot moord geopen ná die ontdekking van die liggaam van die oorledene en sy gewonde vriend.
“Lede was op patrollie in Baden Powell toe ’n veldwagter hulle in kennis gestel het van die liggaam wat in die parkeerarea van Wolfgat Natuurreservaat gevind is,” het Pojie bevestig.
Toe die polisie op die toneel aankom, het hulle sowel die oorledene as die beseerde man aangetref. Die oorlewende het aan die polisie vertel dat hulle die vorige aand saam in die stad gekuier het.
“Hulle het glo ’n geleentheid huis toe gekry van ’n klub in die stad,” sê Pojie. “Hulle is in die parkeerarea afgelaai waar die insittendes van hul voertuig ander insittendes van ’n tweede voertuig ontmoet het. Kort daarna is albei mans geskiet en agtergelaat terwyl die twee voertuie weggehardloop het.”
Paramediese personeel het die dood van een man op die toneel bevestig, terwyl die ander man na ’n nabygeleë hospitaal geneem was vir dringende behandeling.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om Crime Stop te skakel by 08600 10111 of die MySAPS-app te gebruik om anoniem inligting deur te gee.

