Oor beweerde afpersing van meer as R600 000
Verslaggewer – George April
KAAPSTAD:- Twee wetstoepassings beamptes verbonde aan die Stad Kaapstad se Metaal diefstaleenheid is vanoggend deur die Valke se Eenheid vir Ernstige Korrupsie-ondersoeke, saam met die Stad se Safety and Security Information Management Services (SSIMS), in hegtenis geneem.
Die twee word aangekla van korrupsie, afpersing en sakeroof.
Die inhegtenisnemings volg ná ’n reeks voorvalle wat vanaf 31 Januarie 2025 tot onlangs plaasgevind het. ’n Lasbrief vir hul arrestasie is uitgereik nadat ondersoekbeamptes genoegsame bewyse ingesamel het.
Teiken: buitelandse spaza-winkels
Volgens die ondersoek het die twee beamptes sogenaamde inspeksies by buitelandse spaza-winkels uitgevoer, waar hulle asiel-dokumentasie geëis het.
Selfs wanneer die winkelienaars die nodige dokumente kon toon, sou die beamptes glo steeds geld eis.
Slagoffers het op verskeie geleenthede tussen R5 000 en R6 000 betaal om te voorkom dat hul items gekonfiskeer word of dat hulle gearresteer word.
R600 000 se sigarette gesteel
’n Verdere skokkende bevinding dui daarop dat een slagoffer se voertuig se sigarette – ter waarde van meer as R600 000 – gesteel is terwyl hy by die Philippi-Oos polisiekantoor verwerk is. Die beamptes het glo die gesteelde goedere uit die voertuig verwyder sonder dat die slagoffer teenwoordig was.
Hof verskyning
Die verdagtes, ouderdom 36 en 41, is vanoggend 02 Desember 2025, in hegtenis geneem. Hulle verskyn môre, 03 Desember 2025, in die Kaapstad Streekhof op aanklagte van korrupsie, afpersing en sakeroof.
Daar word verder bevestig dat die twee reeds in Mei 2025 op soortgelyke aanklagte gearresteer is en destyds op borgtog vrygelaat is.
