Verslaggewer – Isaac Cloete
Kimberley:- Geregtigheid het geseëvier toe die streekhof sittende in Calvinia, Maandag ’n 32-jarige Bronwin Hilton Swart, skuldig bevind en tot 22 jaar tronkstraf opgelê het.
Twintig jaar vir verkragting en 2 jaar vir diefstal.
Die voorval het op 19 November 2023 plaasgevind, toe ’n 25-jarige vrou ná ’n aand uit in Loeriesfontein huis toe is. Sy het die beskuldigde onverwags ontmoet en hy het haar vergesel tot by haar woning. Daar het sy later haar bewussyn verloor, en toe sy wakker word, het sy besef sy is seksueel aangerand. Haar selfoon was ook weg.
Die slagoffer het die voorval onmiddellik by SAPS gerapporteer, wat gelei het tot die vinnige arrestasie van Swart. ’N grondige ondersoek deur die span van Calvinia Gesinsgeweld-, Kinderbeskerming – en Seksuele Misdrywe-eenheid het uiteindelik tot sy skuldigbevinding gelei.
Lt-Gen Koliswa Otola, provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, het speurder konstabel Anthony Willemse geloof vir sy uitstekende speurwerk. Sy het ook die samewerking tussen speurders en vervolging waardeer, wat verseker het dat die oortreder nie weer ’n vrou of kind skade kan aandoen nie.
“Hierdie uitspraak stuur ’n duidelike boodskap, misdade teen vroue sal nie geduld word nie,” het Otola beklemtoon.
📞 Navrae: W/O Molefi Shemane – 071 310 9507
Foto verskaf: Speurder Konst. Anthony Willemse (links) saam met aanklaer Darryl Bromkamp

