Wanneer Kry Ons Antwoorde?
HOPEFIELD:- Die gemeenskap van Hopefield is keelvol vir die aanhoudende leë beloftes van die Saldanhabaai Munisipaliteit (SBM) oor die herstel van die historiese riethuisie en die bou van ‘n swembad vir ons kinders.
Daagliks word CCN deur inwoners genader met vrae soos, “Gaan ons kinders ‘n swembad kry?” en “Wat gaan van die huisie word?” Maar soos soveel ander in hierdie dorp, het ek geen antwoorde nie, daarom is dit tyd dat die verantwoordelike amptenare rekenskap gee.
‘n Historiese Skat Wat Vergaan
Die riethuisie op die SBM-perseel is besig om onder die elemente in te stort, terwyl noodoproepe aan die munisipaliteit om dit te herstel op dowe ore val. Hierdie huisie is nie net ‘n boustruktuur nie, dit is ‘n herinnering aan ‘n verlede waar die bruin gemeenskap van Oudekraalfontein in soortgelyke huise gewoon het. Die SBM-woordvoerder, Tereza Burger het vroeër in ‘n media verklaring beweer dat die huisie geen historiese waarde het nie, wat eenvoudig nie waar is nie. In ‘n WhatsApp-boodskap het raadslid Miranda Schrader vroeër valse beloftes gemaak oor fondsinsameling vir restourasie, maar dit het duidelik nie gebeur nie.
Gaan die DA net wag tot na die 2026-verkiesing om die huisie finaal af te breek?
In ander dorpe word sulke geskiedkundige strukture opgeknap en as kultuurerfenis bewaar, maar in Hopefield sien ons net verwaarlosing en onverskilligheid. Waarom kry ander dorpe hulp, maar ons nie? Is dit omdat ons ‘n klein gemeenskap is?
Swem in ‘n Vuil Rivier, Tussen Slange en Siektes
Die situasie met die swembad is net so teleurstellend, want ons kinders swem steeds in ‘n vuil soutwater-rivier, blootgestel aan siektes en selfs slange. Die bou van ‘n gemeenskaplike swembad is nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid vir ons kinders se veiligheid en gesondheid. Dit is skokkend dat ‘n demokratiese regering die probleem vir jare ignoreer, terwyl kinders se lewens in gevaar is.
Wie gaan antwoorde gee?
Dit is tyd om die regte mense tot verantwoording te roep:
- Minister van Kunste en Kultuur: Waarom word Hopefield se geskiedenis nie beskerm nie?
- Gayton McKenzie: Hierdie projekte val binne u verantwoordelikheid – waar is die plan?
- SBM en die DA-geleide raad: Wanneer gaan die gemeenskap se vrae beantwoord word?
Daar is geld vir ander projekte in die streek, hoekom nie vir ons kinders en ons kultuurerfenis nie?
CCN gaan nie ophou vrae vra nie, nie solank ons mense blatant geïgnoreer word nie, dit is tyd vir regstelling, nie nog beloftes nie!

