SAPD Ondersoek In Volle Gang
Uitgereik deur die Strand Gemeenskaps Polisieforum (GPF)
📅 Datum: 21 April 2025
Gustrouw:- Die Strand Gemeenskaps Polisieforum (GPF) het Maandag, 21 April, bevestig dat ’n gewapende besigheidsroof omstreeks 17.58 by Muhammad’s Food City in Gustrouw, Strand, plaasgevind het.
Volgens beskikbare inligting het verdagtes die winkel binnegestorm en met onbekende hoeveelhede kontant of items gevlug. Niemand is op hierdie stadium in hegtenis geneem nie, maar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reeds ’n intensiewe ondersoek van stapel gestuur.
Die GPF veroordeel dié brutale oortreding van wet en orde ten sterkste. “Ons doen ’n ernstige beroep op enige persoon wat dalk iets gesien het, of oor enige inligting beskik, om dit dringend aan die owerhede oor te dra,” het ’n woordvoerder gesê.
Enigiemand met leidrade kan SAPD Strand kontak, of anoniem Crime Stop skakel by 08600 10111.
Die GPF versoek inwoners om kalm te bly, waaksaam op te tree, en verdagte gedrag onmiddellik aan te meld. Ons werk onophoudelik saam met wetstoepassers om ’n veiliger Strand vir almal te verseker.

