Maar Veiligheid Begin by Almal.
Berig – George April
Piketberg:- Die strate van Bergrivier gaan binnekort ‘n bietjie veiliger voel, want 21 vars opgeleide Vredebeamptes het onlangs hul sertifikate ontvang tydens ‘n spesiale gradeplegtigheid by die Allan Boesak Gemeenskapsaal in Piketberg.
Van Links – regs: Ray van Rooy, (Uitvoerende Burgemeester van Bergrivier Munisipaliteit) Me. Anroux Marais, (Wes-Kaapse Minister van Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid,) Raadslid Mario Wessels, (Adjunkburgemeester van Bergrivier) en heel regs, Waarnemende Departementshoof – Mnr Hilton Arendse (Departement van Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid).
Hierdie is nie sommer net ‘n klomp uniforms wat bykom nie – dis jong mense uit ons eie gemeenskappe, wat nou die vaardighede het om regstreeks ‘n verskil te maak. Hulle is die oë en ore op straat, die brug tussen die gemeenskap en wetstoepassing, en die hande wat help keer voor dinge buite beheer raak.
Die Wes-Kaapse Minister van Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het die groep gelukgewens en hulle herinner aan die groot verantwoordelikheid wat saam met hul nuwe rolle kom.
“Jul werk begin nou eers regtig”.
Julle is nie net hier om wette toe te pas nie, julle is die beskermers van ons mense. Sonder veiligheid kan geen dorp groei of ontwikkel nie,” het Minister Marais gesê.
Die opleiding is gedoen deur die Stad Kaapstad se geakkrediteerde Openbare Opleidingskollege en het die beamptes toegerus as sowel Vredebeamptes as Verkeersbeamptes.
Hulle sal betrokke wees by:
- Toepassing van munisipale wette.
- Sigbare polisiëring.
- Bevordering van openbare orde en veiligheid.
Maar hoekom is hierdie beamptes werklik nodig?
Bergrivier, soos soveel ander dele van die Wes-Kaap, staan daagliks voor uitdagings soos onwettige dumping, openbare versteurings, en die voortdurende dreigement van misdaad.
Dis nie altyd die polisie wat dadelik kan optree nie, hier is waar Vredebeamptes die leemte vul. Hulle is vinnig op die toneel, verstaan die plaaslike probleme, en werk hand-aan-hand met die inwoners. Maar sonder die samewerking van die gemeenskap, is selfs die beste opleiding nie genoeg nie.
Elke inwoner speel ‘n rol, deur onwettige aktiwiteite aan te meld, beamptes met respek te behandel, en saam te werk om ‘n veilige omgewing te skep waar kinders veilig kan speel en sake kan floreer.
Die Bergrivier Munisipaliteit het die Wes-Kaapse Regering bedank vir die inisiatief wat nie net veiligheid verbeter nie, maar ook plaaslike jeug bemagtig en hoop bring vir gemeenskappe wat smag na stabiliteit.
Veiligheid is nie net ‘n uniform of ‘n wapen nie, dit is ‘n spanpoging. Hierdie 21 beamptes is nou deel van daardie span, die res lê in ons almal se hande.

