Familie bevraagteken weergawe van 33-jarige Francois Stout se dood – Polisie bevestig inquest, maar weier verdere inligting
CCN Verslaggewer – George April
Vredendal:- Cape Coast News (CCNews Online) het betroubare inligting ontvang oor die dood van die 38-jarige Francois Stout, wat Maandag op ’n plaas in die Vredendal-distrik (plaasnaam word weerhou op versoek) plaasgevind het.
Volgens ooggetuies, insluitend ’n 11-jarige seun en werkers wat hout staan en maak het, het die voorval só afgespeel:
Die 11-jarige seun het drie mans in die stoor opgemerk en wou gaan kyk, ondanks sy pa se waarskuwing. Kort daarna het die drie mans hardlopend uit die stoor gekom. Om die hoek het getuies gesien hoe die boer met Francois Stout stoei. Hulle beweer die boer het Stout gewurg totdat hy op sy knieë neergesak het, waarna die boer langs hom gaan sit het.
Daarna het ’n bakkie op die plaas opgedaag. Die boer het met die insittende gepraat, en die bakkie het weer vinnig vertrek. Die voorval is blykbaar eers later daardie Maandag-aand aangemeld, toe niemand meer in sig was nie.
Die boer en sy getuie beweer egter dat Stout per ongeluk deur die dak van die stoor geval het. Die familie van die oorledene bevraagteken hierdie weergawe sterk en glo dit stem nie ooreen met die ooggetuie-verslae nie.
Verklarings, insluitend dié van die ooggetuies, is op Woensdag 1 April 2026 by die polisie afgelê.
Cape Coast News het die SAPS (Van Rhynsdorp en Vredendal) ’n formele media-navraag gestuur. Kaptein T. Helfrich, Weskus-distrikskommunikasie- en diensklagte-koördineerder, het as volg geantwoord:
“At this stage, Vredendal is investigating an inquest case after the death of Francois Stout. No further information will be revealed till the post mortem report is finalized, the investigation into this matter continues.”
Die polisie bevestig dus dat dit as ’n ‘inquest-dossier” (doodsonderzoek) ondersoek word, maar weier om enige verdere besonderhede bekend te maak totdat die nadoodse verslag afgehandel is.
Agtergrond van deursigtigheid
Hierdie gebrek aan gedetailleerde terugvoer kom te midde van CCNews Online se vorige werk, waarin ons onakkurate en vals beriggewing deur ’n ander Weskus-aanlynnuusblad oopgevlek het, insluitend vals beskuldigings teen wyle Bjorn Witbooi in betrokke media.
Die familie van Francois Stout soek antwoorde en geregtigheid, terwyl teenstrydige weergawes spanning in die plaaslike gemeenskap veroorsaak. Ooggetuies se verklarings verskil aansienlik van die boer se beweerde weergawe van ’n val deur die dak.
CCNews Online sal die saak noukeurig opvolg, sodra die nadoodse verslag beskikbaar word of wanneer die polisie verdere inligting vrystel. Ons doen ’n beroep op enigiemand met addisionele inligting om vertroulik met ons in verbinding te tree.
*Cape Coast News Online”
Redakteur / Joernalis
E-pos: editor@ccnews.co.za
Sel: 067 074 5040

