Kry geleentheid om hul gholfdrome uit te leef
CCN Verslaggewer – Deon Black
PIKETBERG:- Die PSDF Winter Golf Tour sal van 6 tot 10 Julie 2026 jong gholfspelers van die Weskus die geleentheid bied om hul vaardighede op verskeie gholfbane te ontwikkel.
Twintig junior spelers sal gedurende die vyf dae aan aktiwiteite by Langebaan, Vredenburg en Shelly Point deelneem, voordat die toer met die Target 36-byeenkoms in Vredenburg afgesluit word.
Volgens die organiseerders gaan die toer oor veel meer as net gholf. Die fokus is om jongmense bloot te stel aan dissipline, spanwerk, respek en persoonlike ontwikkeling, terwyl hulle hul sporttalent ontwikkel.
Om die projek moontlik te maak, word daar steeds ondersteuning vanuit die gemeenskap en sakewêreld gesoek.
Die fondse sal gebruik word vir vervoer, deelnamekoste, etes, pryse en kleredrag vir die spelers.
Sport bly een van die kragtigste maniere om jongmense positief te beïnvloed, en inisiatiewe soos hierdie bied nie net sportgeleenthede nie, maar help ook om selfvertroue, leierskap en nuwe toekomsmoontlikhede te ontwikkel.
Belangstellendes wat die projek wil ondersteun, kan Mosvin Moore – 081 047 9446 direk kontak vir verdere besonderhede.

