En Drie Ander
Verslaggewer – Isaac Cloete
Noordkaap:- Vier familielede van Keimoes het onlangs hul lewens in ‘n verskriklike ongeluk verloor.

Foto verskaf – Ettiene Conroy Cloete
Hierdie tragedie het die hele gemeenskap van Keimoes in die Noord-Kaap geskok en gebroke agtergelaat. Die oorledenes van die Matthys-familie is die ouers, Regina en Chris “Boeta” Matthys, hul kind Rochalle, en Etline, laasgenoemde se dogter.
Die vyfde persoon, Ettiene Cloete – Rochalle se kêrel – het ook in die verskriklike ongeluk op die R27 tussen Calvinia en Brandvlei op Donderdag gesterf. Cloete is oorspronklik van Matjieskloof, Springbok.
Kaptein Ivan Magerman, polisiewoordvoerder van SAPD in Namakwa, het gesê: “Die botsing het Donderdag om ongeveer 18:46 plaasgevind, sowat 56 kilometer buite Calvinia in die rigting van Brandvlei. “Die SAPD op Calvinia ondersoek ‘n saak van strafbare manslag na aanleiding van ‘n noodlottige motorbotsing waarin ses mense gesterf het.”
Die Matthys-familie (en Cloete) was op pad terug na Keimoes vanaf Kaapstad. Die bestuurder van die Ford-bakkie, Beauron Tieties van Williston, was op pad uit Mpumalanga, in die rigting van Kaapstad, toe die voertuig met die Polo gebots het.
Judene Meyer, ‘n niggie van Boeta, het gesê dat hy vir ‘n baie lang tyd by die myne op Black Mountain, naby Aggeneys, gewerk het. Hy het ‘n paar maande gelede afgetree.
Volgens Meyer is Cyricus Matthys, die ander kind van die Matthys-egpaar, nou die enigste oorblywende familielid van hierdie gesin.
Cyricus is getroud en woon ook in Keimoes. Intussen stroom medelye en boodskappe van regoor die land in, veral uit die Noord-Kaap.
Die sosiale mediagroep, “Foreigners in SA,” het geskryf: “Ons innige meegevoel gaan uit na die bedroefde familie en almal wat deur hierdie ondenkbare tragedie geraak is.
Die lewe is broos, en môre word nooit gewaarborg nie. Hou jou geliefdes naby, vergewe gou en koester elke oomblik saam.
Hierdie wêreld is beslis nie ons tuiste nie. Onthou dit altyd.” Die vier lede van die Matthys-familie word Saterdag in Keimoes ter ruste gelê. Die begrafnis sal by die Alexander Steward Congregational-kerk plaasvind.
Ettiene Cloete se begrafnis sal op 15 Augustus in Matjieskloof, Springbok, gehou word.
