En ’n laaste groet aan Anna Julies
CCN Verslaggewer – George April
Hopefield:- Op Saterdag 21 November 2026 het families bymekaargekom op die historiese Kersefontein-plaas om die laaste eer te betoon aan wyle Anna Julies.
Sy was ’n boorling van die plaas en is 82 jaar gelede hier gebore as deel van die Coetzee-families.
Anna word oorleef deur haar kinders, familie en haar twee oudste susters – Dina van der Heuvel (99) en Lena Coetzee (89).
Julian Melck, eienaar van Kersefontein, het in sy huldeblyk gesê: “Die vrou was deel van my grootwordjare, ’n engel met ’n hart van goud. Sy laat ’n leemte op die plaas, iemand wat altyd daar was vir almal van ons.”
Diegene wat teenwoordig was, beskryf die byeenkoms as een van die mooiste en mees betekenisvolle huldeblyke wat hulle al bygewoon het. Dit was ’n waardige afskeid van ’n vrou wat haar lewe lank met die plaas en sy mense verbind was.
Kersefontein self is een van die oudste en mees ononderbroke familieplase in die Sandveld.
Die plaas is oorspronklik in 1744 deur die VOC aan Johannes Mijndertsz Cruywagen toegeken. Op 13 Augustus 1770 het die Duitse settelaar Martin Melck dit gekoop. Sedertdien het die plaas nooit die Melck-familie se hande verlaat nie. Vandag is Julian Melck die agtste generasie wat hier boer.
Die pragtige Kaaps-Hollandse opstal, ’n nasionale monument, dateer uit die 1770’s. Die werf met sy ou stalle, waenhuise en bygeboue lyk soos ’n klein dorpie. Die Bergrivier vloei naby verby en gee die plaas sy unieke karakter. Oor die jare is hier met perde, beeste, skape en graan geboer – ’n tradisie wat tot vandag toe voortleef.
Vir die mense van Hopefield en die omliggende gemeenskap is Kersefontein meer as net ’n historiese plaas. Dit is ’n plek waar generasies saam grootgeword het, waar hardwerkendheid en gemeenskap nog steeds saamloop, en waar mense soos Anna Julies ’n blywende plek in die hart van die plaas en sy mense gelaat het.