Met Paalslaner se lang vonnis
Berig – Isaac Cloete
“As haar ma voel my moederhart tevrede met die tien jaar wat hy gekry het.”
GARIES:- Dorothy Smith, die ma van ’n 20-jarige vrou wat deur haar eks-kêrel, Darryl Joseph (34), met ’n paal brutaal aangerand is, sê sy hoop die vonnis van tien jaar tronkstraf sal ander ouers se oë oopmaak.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), was die beskuldigde destyds in ’n verhouding met die klaer, toe sy nog net 17 jaar oud was.
Brutale Aanval
Op 15 Oktober 2022 het sy by haar niggie se huis in Paulshoek, Garies, gekuier toe Joseph, wat amper dubbel haar ouderdom is, skielik opgedaag het. Hy het haar na buite geroep en sonder waarskuwing met ’n dropperpaal begin aanval – haar in die gesig en oor haar lyf geslaan.
Die slagoffer het probeer vlug, maar Joseph het haar agtervolg en steeds aangehou om haar te mishandel. Hy het haar ook uitgemaak as ’n “slegte meisie wat rondlê.” Haar niggie en vriende het probeer ingryp, maar Joseph was onstuitbaar.
Hy het haar uiteindelik gedwing om saam met hom na sy huis te gaan, waar die aanranding voortgeduur het. Daar het hy haar verder verneder en gedwing om die nag by hom deur te bring.
Ontsnapping en Straf
Die volgende oggend het die jong vrou daarin geslaag om te ontsnap en hulp by ’n vriend te kry. Joseph het later probeer om vergifnis te vra en sy “liefde” vir haar verklaar, maar dit was te laat, sy het reeds ’n saak teen hom geopen.
Die beskuldigde is in hegtenis geneem en die slagoffer moes weens ernstige gesigfrakture en veelvuldige beserings in die hospitaal opgeneem word. Sy moes chirurgiese behandeling ondergaan en ontvang steeds sielkundige berading.
Haar ma, Dorothy Smith, het gesê-
“My meisiekind is getraumatiseerd en sit met sielkundige letsels. Ek het baie met haar gepraat, maar verliefdheid maak kinders blind. Maar deur die Here se genade gaan ons aan.”
Geskiedenis van Geweld
Tydens die hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat Joseph in die verlede ook ’n vorige vriendin aangerand het, maar sy het nooit klagtes gelê nie weens sy herhaalde pleidooie om vergifnis.
Na oorlegpleging met die klaer en ondersoekbeampte, speur-adjudant Anthea Cloete-Landrew, het streekshofaanklaer Basil “The Jaguar” Kock ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die verdediging aangegaan.
Op 31 Maart 2025 het die Garies-streekshof Joseph tot 10 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir aanranding met die doel om ernstige liggaamlike besering te pleeg. Hy is ook ongeskik verklaar om ooit met kinders te werk en mag nie ’n vuurwapen besit nie.
Smith het ten slotte gesê – “Ek is nog diep seer, maar my meisiekind se verhaal móêt ’n wekroep wees vir ander jong meisies – Skrik asseblief wakker.”
Cloete en Kock is wyd geloof vir hul uitstekende ondersoekwerk en vervolging.
Dialoog Teen Geslagsgebaseerde Geweld
Intussen het die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Donderdag, 27 Maart 2025, ’n dialoog oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord by die Kimberley-polisiestasie aangebied.
Die geleentheid was gemik op die bekamping van geslagsgebaseerde geweld in die Noord-Kaap en die bewusmaking van gemeenskappe oor die erns van sulke misdade.
