Rumè Burger maak geskiedenis in nuwe Suid Afrikaanse Atletiek rekord in 100 meter wedloop – Vinnigste ter wêreld
Berig:- George April
Bloemfontein:- In ‘n verstommende vertoning van spoed en talent het Rumé Burger Vrydag die 100 meter vir o.17-atlete tydens die Nasionale Hoërskole-byeenkoms gewen in ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordtyd van 11.43 sekondes (amptelik). 
Dit is nie net ‘n mylpaal vir Suid-Afrikaanse atletiek nie, maar ook ‘n historiese oomblik vir haar skool, Oranje Meisieskool, aangesien sy die eerste Oranjeniet in etlike jare is om hierdie gesogte item op nasionale vlak te wen.
Burger het reeds Donderdag in die semi-finaal gewys sy is op rekordkoers toe sy die vorige nasionale rekord van 11.58 sekondes, wat sedert 2006 gestaan het, verbeter het na 11.50. Maar dit was in die eindronde waar sy haar naam vir ewig in die rekordboeke ingegraveer het.
Wat haar prestasie selfs merkwaardiger maak, is dat haar tyd van 11.43 sekondes vinniger is as die vinnigste tyd wat tot dusver in 2025 deur enige o.18-vroueatleet internasionaal aangeteken is (11.49 volgens Wêreldatletiek se rekordlyste).
Hierdie oorwinning plaas Burger nie net onder die land se topjeugatlete nie, maar wys ook dat sy ‘n sterk aanspraakmaker is om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig. Atletiekkenners is reeds besig om haar te vergelyk met van die land se grootste sprinters, en as sy voortgaan op hierdie trajek, kan sy dalk een van Suid-Afrika se volgende groot sterre word.
Met hierdie geskiedkundige vertoning het Rumé Burger nie net haar eie drome bewaarheid nie, maar ook ‘n hele nuwe generasie jong atlete in Suid-Afrika en veral by Oranje Meisieskool, geïnspireer.
Bly ingeskakel vir verdere opdaterings en reaksies op hierdie asemrowende prestasie!

