Munisipaliteit tree op teen gevaarlike terrein in Malmesbury
Berig – George April
Malmesbury:- Die Swartland-plaaslike munisipaliteit het ingegryp om ‘n onooglike en potensieel gevaarlike terrein binne ‘n privaat landgoed in Malmesbury aan te spreek.
Hierdie optrede volg op ‘n klag van ‘n bekommerde inwoner wat die veiligheid van mense in die omgewing bevraagteken het.
Die terrein in kwessie bevat bou-afval en twee skeepshouers wat nie volgens bouregulasies geanker is nie. Daar word vermoed dat dit vir die berging van boutoerusting gebruik word.
Na ‘n dringende versoek aan die munisipaliteit is ‘n kennisgewing op 2 April ingevolge artikel 12 van die Nasionale Bouregulasies- en Boustandaarde Wet aan die eienaar uitgereik. Volgens die kennisgewing het die eienaar 14 dae tyd (tot 23 April 2025) om ‘n professionele ingenieur aan te stel en ‘n verslag voor te lê oor hoe die strukture beveilig sal word. Daarbenewens moet die eiendom onmiddellik beveilig word om onwettige toegang te verhoed.
Indien die eienaar versuim om hieraan te voldoen, kan dit tot ‘n slopingsbevel lei.
Die situasie word noukeurig gemonitor om seker te maak dat alle regulasies nagekom word. Daar is reeds in die verlede sukses behaal met soortgelyke gevalle, en inwoners word aangemoedig om enige verdere veiligheidsrisiko’s aan te meld.
Navrae: 072 143 4131
