Berig – Isaac Cloete
Calvinia:- As ‘n mens nader stap, sal jy agterkom dat die Hoërskool op Calvinia, werklik gesluit is.
Ja, dis taptoe, geslot en grendel omdat die skoolgemeenskap, ouers, leerders, beheerraadslede, en ander betrokkenes dit nie meer kan uithou nie.
Die redes agter die sluiting is, soos reeds geskat, die kragtoevoer wat glo al sedert 2024 afgesny is weens wanbetalings of onverwerkte betalings. Dit het veroorsaak dat die koshuis en skool heeltemal sonder elektrisiteit is, het ‘n betrokke ouer vertel.
Verder is die situasie ook vererger deur die feit dat die koshuis ook geen voedselvoorrade het nie, wat ‘n groot probleem vir die koshuisgangers is.
Dit is dieselfde skool waar ‘n deel van die dak van die klaskamers in die verlede “geneig” het om inmekaar te tuimel, weens strukturele foute. Die tydelike stutte wat daar geplaas is, is volgens berigte nog nooit vervang met permanente pilare of betonstutte nie.
Volgens Mervin Matthys, voorsitter van die Skole Beheer Liggaam, beplan die ouers om Vrydag ‘n protesoptog na Hantam Höerskool te hou, om hulle misnoë teen die Onderwys Departement te demonstreer.
“Die Gevolge van Skole Sluitings”
Die sluiting van skole soos Hantam Hoërskool, plaas nie net ‘n geweldige las op gemeenskappe nie. Dit illustreer ook die diepgaande uitdagings wat die huidige onderwysstelsel, in Suid-Afrika in die gesig staar. Korrupsie en misbestuur in staatsinstellings, het die stelsel tot ‘n breekpunt gebring. Die enigste oplossing sal wees dat die regering ‘n daadwerklike poging aanwend, om op te staan teen die korrupsie wat die stelsel benadeel. Verskillende politieke partye stry steeds oor mag, terwyl die lewens van die land se jong mense op die spel is. Dit laat die vraag ontstaan, “Was die Regering van Nasionale Eenheid die antwoord?
Die toekoms van ons jeug, en die kwaliteit van opvoeding wat hulle ontvang, kan nie die prys wees van politieke vegte nie. Hoërskool Taptoe is net een van vele skole wat ‘n diep beskadigde stelsel weerspieël. Wat die regering en Onderwys Departement vandag moet besef, dit is nie net ‘n gemeenskap wat benadeel word nie. Dis ‘n hele samelewing wat afhanklik is van ‘n werkende en betroubare onderwys infrastruktuur.