TYD VIR AKSIE IN DIE WES-KAAP
Berig – George April
BOLAND DORPE:- Elke oggend en aand word duisende plaaswerkers in die Wes-Kaap soos diere op oop trokke vervoer.
Sonder enige beskerming teen wind, son of gevaar. Hierdie skokkende tonele, wat daagliks in dorpe soos Robertson, De Doorns, Ashton en Ceres afspeel, plaas ’n skadu oor die glorie van ons wynlande.
Volgens wet moet varke vervoer word op trokke met nie-glipvloere, sonbeskerming en spesifieke ruimte per dier. Maar vir mense, die hande agter die oes, is daar geen soortgelyke beskerming nie. Al wat die wet vereis is relings. Geen reëls oor uitlaatgasse, sonblootstelling of oorlading nie.
‘N Onmenslike Werklikheid
’n Onlangse foto geneem buite Robertson wys ’n bakkie wat minstens 15 mense dra, drie keer meer as die toegelate vyf. En dis nie ’n uitsondering nie, in ‘n onlangse gesprek met ’n plaaswerker van die omgewing, het hy gesê:
“Ek voel soos ’n dier op pad slagpale toe, elke keer as ek op daai trok klim.”
GOOD se Brett Herron Reageer
Brett Herron van die GOOD-party het in reaksie op hierdie situasie die volgende verklaring uitgereik:
“Dit is ’n skande dat plaaswerkers, wat ’n onmisbare rol in ons landbou-ekonomie speel, daagliks hul lewens op die spel moet plaas om by die werk te kom. Die wet beskerm diere beter as mense. Ons eis dat die Wes-Kaapse LUR vir Landbou en Vervoer hierdie praktyke onmiddellik stop en dat streng provinsiale regulasies ingestel word.”
Herron het ook gesê dat hy bewyse van hierdie vervoer praktyke aan die Parlement gaan voorlê en ’n beroep gaan doen op die Nasionale Minister van Vervoer om die huidige wetgewing aan te pas.
CCN – Slot Gedagte
Solank plaaswerkers hul lewens moet waag om ’n bestaan te maak, behoort geen glase wyn of kratte vrugte trots vertoon te word nie. As ons regtig trots is op die Boland, moet dit insluit hoe ons ons mense behandel.