Ná Tragiese Gebeure in Malmesbury en op die N7
Berig – George April
Malmesbury:- Die gemeenskap van Malmesbury en omliggende areas is in rou ná twee tragiese insidente wat op dieselfde dag plaasgevind het.
Dodelike Ongeluk op die N7
‘n Dossier vir skuldige manlag is geopen en word tans ondersoek deur Malmesbury SAPD, ná ‘n noodlottige ongeluk vroegoggend op die N7 in die rigting van Moorreesburg. Volgens kapt. Tania Helfrich van die Wes-Kaap se kommunikasiekantoor, het die ongeluk op 18 Junie 2025 omstreeks 06:30 plaasgevind.
By aankoms op die toneel het polisiebeamptes gevind dat die vragmotor oor ‘n vangrail gehang het. Die liggaam van die 35-jarige Mziyanda Wapi het op die pad gelê, en ‘n passasier was nog vasgekeer in die voertuig. Mziyanda is op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die ongeluk word tans deeglik ondersoek.
Messteek-insident Eis Lewe van Wahwed Sulaiman
In ‘n tweede voorval is Wahwed Sulaiman met ‘n mes aangeval in Korhaanstraat, Malmesbury. Hy is vanoggend, 19 Junie, omstreeks 06:00 in Tygerberg-hospitaal oorlede aan sy beserings.
Volgens vriende was Wahwed ‘n stil en rustige mens wat eers na persoonlike gesels gemaklik geraak het. Sy dood was ’n groot skok vir sy familie en vriende. ’n Betroubare bron het bevestig dat hy, in ooreenstemming met die Moslem-geloof, nog vandag begrawe sal word.
Volgens kapt. Helfrich kan daar tans nog geen verdere besonderhede oor die messteek-insident gedeel word nie, aangesien dit deel is van ‘n aktiewe ondersoek.
