Deur Isaac Cloete
SPRINGBOK:- ’n Skellende en vloekende eienaar van ’n sekuriteitsmaatskappy het uiteindelik sy moses ontmoet nadat verskeie klagtes oor wanbetaling en bedrog aan die lig gekom het.
Johan Bester, eienaar van Best Guarding Sekuriteit in Springbok, word daarvan beskuldig dat hy sekuriteitsbeamptes en kandidate vir opleiding tot ses maande lank nie betaal het nie. In sommige gevalle, blyk dit, selfs langer. Volgens klagtes het Bester sowat R20 000 van voornemende werkers ontvang vir sogenaamde “opleiding” wat nooit plaasgevind het nie.
Verskeie individue het na CCN uitgereik met hul stories, een van die benadeeldes, wat verkies om anoniem te bly, het gesê:
“Dit was verdag dat mnr. Bester kontant geëis het eerder as ’n bankoorplasing. Toe ek hom bel om my geld terug te vra, het hy begin skree, was uiters onbeskof en het selfs met regstappe gedreig. Daarna het hy eenvoudig die foon neergegooi.”
Nog ander getuig dat Bester soms uit die Bybel aangehaal het net om ’n paar minute later vurig te vloek en mense te slegsê. Een stem het egter deurgaans weerklink: die geld moet terugbetaal word, en die maatskappy moet by die Private Security Industry Regulatory Authority (PSiRA) aangekla word.
’n Verslaggewer van CCN het persoonlik met Bester telefonies kontak gemaak. Aanvanklik het hy homself bedees en samewerkend voorgedoen. Maar toe die eis gestel word om ten minste vyf mense terug te betaal, het sy houding dramaties verander. Skielik het hy homself skerp en onsmaaklik uitgelaat – ’n gedrag wat volgens een waarnemer “meer geskik is vir ’n straatgeveg as vir ’n sogenaamde sakeman”.
Tydens ’n persoonlike besoek aan Best Guarding Sekuriteit se kantoor in Springbok het Bester se aggressie voortgeduur. Sy swaaiende vinger en uitdagende houding het egter min indruk gemaak. Die eis vir terugbetaling bly staan.
Wat nog meer kommer wek, is die feit dat die maatskappy blykbaar nie oor ’n behoorlike boekhoudingsisteem of databasis beskik nie. Daar is geen volledige rekord van werknemers, hulle inligting, of selfs hul name en woonplekke nie.
Bester se vrou, Elsabe, het egter in ’n poging tot skadebeheer bevestig dat sy nou die maatskappy se betaalbeampte is.
“Ek het die verantwoordelikheid op my geneem omdat ons nie seker is wat van al die geld geword het nie. Ek kan ongelukkig net twee persone op ’n slag betaal, maar ek verseker dat almal hul geld sal ontvang voor einde Julie,” het sy aan CCN gesê.
Sebastian Neelse, ’n voormalige werknemer, beweer Bester skuld hom ook vir sekuriteitswerk en het bygevoeg:
“Hy’s ’n skelm, maar God sal hom oordeel.”
Die polisie het bevestig dat ’n klag teen Bester op Port Nolloth ingedien is, en dat ’n formele ondersoek aan die gang is. Ten spyte van sy verweer, het CCN bevestig dat slegs een persoon tot op hede terugbetaal is.
Die res hou hul asem op dat die beloftes teen einde Julie gestand gedoen sal word.


