Berig – George April
Weskaap:- Die Parow Streekhof het Cevyn Kemp tot ‘n effektiewe 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het aan die moord op sy broer, sy ma en sy tannie.
Kemp is aan al drie aanklagte van moord skuldig bevind ingevolge Artikel 112(2) van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977. In sy pleitverduideliking het hy erken dat hy op 14 Desember 2022 by hul woning in Martinlaan 18, Bishop Lavis, sy broer Peter Kemp doodgeslaan het nadat hulle baklei het oor sy swak skoolpunte.
Toe Kemp sy broer se kamer binnegaan, het hy hom glo betrap waar hy dwelms rook. Tydens die woordewisseling het Peter glo begin baklei en hom geslaan. Kemp het toe ’n baksteen opgetel – wat as deurstop gebruik is – en sy broer daarmee op die kop geslaan totdat hy dood is aan die gevolge van stomp geweld.
Toe hul ma, Elmoline Kemp, later daardie aand van die werk af kom en na Peter vra, het Kemp gesê sy broer het uitgegaan. Sy het egter in Peter se kamer gaan kyk en sy liggaam gevind. Kemp het beweer dat hy paniekerig geraak het, en haar toe ook met dieselfde baksteen doodgeslaan.
Min later het sy tannie, Shireen Isaacs, opgedaag en gevra waar sy suster en haar nefie is. Hy het gesê hulle het iewers in die buurt gaan kuier. Sy het teruggekeer, gesê sy kon hulle nie kry nie, en het self in die huis begin soek. Toe sy die twee liggame ontdek, het Kemp haar glo ook aangeval en met dieselfde baksteen doodgekap.
Die volgende dag het die beskuldigde na ‘n vriendin se huis gegaan en aan haar vertel daar het iets met sy familie gebeur. Sy en haar pa het hom huis toe vergesel, waar hulle die liggame in die agterplaas ontdek het. Die polisie het hom in hegtenis geneem en aangekla van moord binne ‘n huishoudelike verhouding, gelees saam met relevante artikels van die Strafproseswet en die Wet op Gesinsgeweld.
‘n Sielkundige het Kemp ondervra, en aanvanklik het hy beweer dat hy iemand gesien het wat die liggame uitgesleep het. Maar toe dit blyk dat die voordeur gesluit was en daar geen manier was waarop hy daardeur kon ontsnap en dit weer sluit nie, het hy besluit om die waarheid te vertel.
Die streekhofaanklaer, Earl Edward Koopman, het aangevoer dat die hof lewenslange gevangenisstraf moes oorweeg, maar die hof het bevind daar is noemenswaardige en dwingende omstandighede om van die minimum vonnis af te wyk, insluitend Kemp se ouderdom, sy onmiddellike skulderkenning, persoonlike omstandighede en berou.
Die hof het Kemp tot 25 jaar direkte gevangenisstraf per moord gevonnis, maar gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word, ingevolge Artikel 280(2) van die Strafproseswet. Hy is ook ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die hof se uitspraak aanvaar.
Uitgereik deur:
Eric Ntabazalila
Nasionale Vervolgingsgesag
Streek kommunikasie bestuurder – Wes-Kaap


