Berig – Felicity Jooste
KNYSNA:- ’N blitsige reaksie op inligting uit die gemeenskap het Woensdagaand, 13 Augustus 2025, tot groot sukses gelei, toe Knysna-polisie dwelms ter waarde van sowat R90 000 tydens ’n misdaad bekampings operasie gekonfiskeer het.
Lede van die Knysna Misdaad voorkomingseenheid het inligting opgevolg en ’n houer wat as ’n barbierwinkel gebruik is, deursoek. Daar is 65 bankies dagga gevind. Verdere ondersoek het hulle na ’n huis in Hlalani, naby Nekkies, gelei waar ’n swart sak vol dagga ontdek is. Altesaam is meer as 11 kilogram dagga gekonfiskeer.
’n Vrou (24) en twee mans (26 en 29) is in hegtenis geneem en sal op aanklagte van dwelmhandel in die hof verskyn.
In ’n afsonderlike voorval op Dinsdagaand, 12 Augustus 2025, het Da Gamaskop-polisie inligting ontvang oor ’n voertuig wat glo koperkabels vervoer. Lede het die voertuig in Sampsonstraat, Mosselbaai, naby ’n skrootwerf, onderskep en koperkabels ter waarde van sowat R20 000 in die voertuig gekry. ’n Man (51) is gearresteer op ’n aanklag van besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Nog ’n sukses is in Laingsburg aangeteken toe polisie Donderdagnag, 14 Augustus 2025, omstreeks 02:30 twee verdagte mans in Tweede Straat aangekeer en deursoek het. Dwelms is in hul besit gevind en die paar is onmiddellik in hegtenis geneem.
Die polisie sê hierdie optredes wys hoe belangrik gemeenskap samewerking is om misdaad te bekamp.
#DrugsOffTheStreets #Bron: SAPD


