Verslaggewer – George April
Wynberg:- Vroeër vandag het die polisie inligting ontvang via verskeie sosiale media platforms, oor ’n verdagte Quantum-minibus wat na bewering oppad was na Wynberg.
Volgens inligting, met die doel om ’n getuie wat vandag in die hof sou verskyn, dood te skiet.
Die Wynberg SSK (CBD) Operasionele Span is onmiddellik gemobiliseer en het patrollering en waarneming in en rondom die Wynberg-landdroshof uitgevoer.
Tydens patrollie het lede ’n verdagte Quantum op Kerkstraat opgemerk met sewe insittendes binne die voertuig. Met die toepassing van hul taktiese opleiding het die polisie die voertuig genader en die insittendes beveel om uit te klim.
Al sewe persone is deursoek en daar is beslag gelê op drie verbode vuurwapens, ammunisie, gevaarlike wapens, selfone asook verdowingsmiddels.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die verdagtes verbind kan word aan bekende bendes en moontlik betrokke was by vorige skietvoorvalle.
Die verdagtes, wat in Vrygrond, Seawinds, Retreat, Westlake, Mfuleni en Tafelsig woonagtig is, is in hegtenis geneem en aan Wynberg SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
Hierdie optrede word beskou as uitstekende polisiëring wat moontlik ’n ernstige misdaad en verlies aan lewe verhoed het.


