Met Kunstenaars en Influencers – Terwyl Jeug- en Skoolsport in die Wes-Kaap en landwyd in die koue bly?
CCN Verslaggewer – George C April
Kaapstad Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se beplande amptelike delegasie na die 2026 FIFA World Cup in Mexiko, Kanada en die VSA kan tot R19,2 miljoen kos.
Dit sluit voormalige Bafana Bafana-legends, musikante, influencers en amptenare in. Intussen kry jeugorganisasies soos WCSS NPO al meer as twee jaar lank net stilte op hul versoeke vir befondsing.
Volgens berigte sal die departement self ‘n groot deel van die koste dra vir die breër delegasie, terwyl die “Lucky Fans”-program (wat sowat 20 ondersteuners soontoe stuur) hoofsaaklik deur private borge soos HONOR Technologies, Betway en Cell C befonds word.
Groeiende kritiek van Opposisie partye en belastingbetalers eis nou volle deursigtigheid oor presies hoeveel publieke geld gebruik word en wat die presiese rol van kunstenaars en influencers by die toernooi sal wees. Kritici wys daarop dat Suid-Afrika worstel met hoë jeugwerkloosheid (om en by 45%), vervalle infrastruktuur en onlangse sny in kunstebefondsing – soos die R5,5 miljoen wat aan die National Arts Festival geweier is.
Op sosiale media en in parlementêre debatte word die prioriteite skerp bevraagteken. Baie sien dit as ‘n luukse uitstappie terwyl grondvlak-sportprogramme krepeer.
Jeugsport betaal die prys – Vir meer as twee jaar probeer organisasies soos WCSS NPO en ander jeugstrukture landwyd om fondse te kry vir afrigting, toerusting, ligas en veilige speelplekke vir kinders. Briewe en voorstelle word gestuur… en dan volg net stilte van die departement.
Dit staan in skerp kontras met die vinnige reaksie en befondsing vir die World Cup-glans. Jong atlete – of dit nou rugbyspelers in ‘n lyn-out is, sokkerspelers op township-velde, of ander sportkodes – word daagliks gefaal deur ‘n stelsel wat elders prioriteite stel.
Sport bly een van die effektiefste wapens teen jeugmisdaad, dwelms en sosiale probleme. Tog lyk dit of belegging in die jeug van vandag nie dieselfde dringendheid geniet as ‘n internasionale toer nie.
Minister Gayton McKenzie het die delegasie verdedig as ‘n manier om Suid-Afrikaanse kultuur te bevorder deur optredes in fan zones. Hy beklemtoon dat die Lucky Fans-inisiatief nie direk deur belastinggeld befonds word nie. Maar die breër prentjie bly ‘n bron van openbare woede.
Die publiek en gemeenskaps organisasies wag nou op ‘n volledige verduideliking: Hoe word hierdie besteding geregverdig terwyl skole en jeugprogramme sukkel om basiese ondersteuning te kry?
Is dit aanvaarbaar om miljoene op ‘n glansdelegasie te spandeer terwyl ons kinders se sportontwikkeling agterbly? Deel jou mening in die “Contact US’ online kommentaar, of kontak jou plaaslike verteenwoordiger en die Minister.
Bronne: Onlangse parlementêre vrae, News24, AllAfrica, en openbare verklarings van die Departement.

