Verslaggewer – Isaac Cloete
SPRINGBOK:- Die Noord-Kaapse dorp staan gereed vir wat na verwagting een van die grootste gesondheidsverwante protes-aksies in die streek in onlangse jare kan wees.
Dis wanneer lede van die vakbond NEHAWU Vrydagoggend aan ‘n beskermde vreedsame optog gaan deelneem.
Honderde gesondheidswerkers, insluitend verpleegkundiges, dokters, paramedici, ambulanspersoneel, algemene werkers en ondersteuners uit die gemeenskap, sal na verwagting by die Dr. Izak van Niekerk Hospitaal bymekaarkom voordat hulle na die plaaslike Distrikskantoor van Gesondheid opruk.
Volgens Alicia Magerman, verpleegkundige en een van die organiseerders van die optog, is die doel om die toenemende krisis binne die openbare gesondheidstelsel onder die aandag van senior bestuur te bring.
“Ons personeel bereik breekpunt, met die druk op werkers wat daagliks toeneem en dringende ingryping is nodig,” het sy gesê.
Een van die ander organiseerders, Morgan, het bevestig dat ‘n memorandum met verskeie eise en griewe aan die Departement van Gesondheid oorhandig sal word. Die vakbond eis onder meer dat vakante poste dringend gevul word, dat uitstaande oortydbetalings en toelaes uitbetaal word, en dat daar aandag geskenk word aan die verslegtende toestand van gesondheidsfasiliteite.
Daar word ook gekla oor die tekort aan gehalte-uniforms, toerusting en ander noodsaaklike hulpmiddels wat gesondheidswerkers benodig om hul werk doeltreffend te verrig.
Intussen raak die publiek toenemend gefrustreerd oor wat hulle as swak dienslewering by hospitale en klinieke in Namakwaland beskryf. Volgens verskeie bronne het soveel as agt verpleegkundiges die afgelope paar maande bedank of afgetree sonder dat vervangings aangestel is.
Die gevolg is dat oorblywende personeel langer ure werk, groter werkslaste dra en toenemend tekens van uitbranding toon.
Nog ‘n groot bron van kommer is die toestand van ambulansdienste in die streek. Inwoners beweer dat reaksietye dikwels onaanvaarbaar lank is en dat dienste soms glad nie beskikbaar is wanneer dit die dringendste benodig word nie.
Deon Olivier van Hospersa het reeds verlede maand gewaarsku dat protesaksie onafwendbaar geword het indien geen betekenisvolle oplossings gevind word nie.
“Ons staan ten volle agter ons lede en bly verbind tot die soeke na werkbare en permanente oplossings vir die uitdagings waarmee gesondheidswerkers en gemeenskappe daagliks gekonfronteer word,” het Olivier gesê.
Die optog sal na verwagting die ernstige uitdagings binne die gesondheidsektor in Namakwaland weer in die kollig plaas en druk op owerhede verhoog om daadwerklik op te tree voordat die situasie verder versleg.



