Saamstaan vir ‘n Beter Toekoms
Skrywer -Bekommerde inwoner van Hopefield – CCN Online)
Hopefield:- Die pragtige klein dorp in die Saldanha Bay Munisipaliteit, het sedert 1994 baie verander – maar ongelukkig nie altyd ten goede nie.
Volgens die 2011- sensus het die dorp ongeveer 6 460 inwoners gehad. Met die sterk groei in die groter munisipaliteit (wat nou meer as 154 000 mense tel), behoort Hopefield se inwonertal vandag maklik bo 8 000 te wees. Die bruin gemeenskap vorm steeds die oorgrote meerderheid – sowat twee derdes – terwyl die res hoofsaaklik blankes is.
Tog bly die werklikheid swaar: sosiale omstandighede het agteruitgegaan. Baie jongmense wat in 2022 oud genoeg was om te stem, is vandag werkloos en voel magteloos. Die jongste registrasienaweek het skaars meer as 100 nuwe registrasies in die area opgelewer. Dit weerspieël nie die werklike getal ongeregistreerdes nie. Baie jongmense en volwassenes weier eenvoudig om te stem omdat hulle glo: “Niemand gee om nie.”
Verdeeldheid steel ons krag
Die verdeeldheid binne die bruin gemeenskap is een van die grootste probleme. Ouers kla voor hul kinders oor swaarkry, en dié negatiewe boodskap word van geslag tot geslag oorgedra. Politieke partye kom met mooi beloftes jaar na jaar, maar die vertroue is lankal weg. Tans is daar ses verskillende partye se plaaslike inwoners wat inwoners probeer oortuig waar om te stem. Die gevolg? Die stemme word verder verdeel, en geen plaaslike kandidaat kry maklik die meerderheid om werklik ‘n verskil te maak nie. Ses gemeenskapslede sit by die stem registrasie punte vir ses verskillende politieke partye – dis hoe krag in ‘n gemeenskap verdeel word.
Intussen lyk dit asof die DA of nou die VF+ waarskynlik weer sterk sal vaar in die November 2026 plaaslike verkiesings.
Maar daar is ‘n ander pad
Dinge gaan net werklik verander wanneer mense in Hopefield en ander klein dorpies in dieselfde omstandighede saamsit en saam besluit: Wie het die kapasiteit, die rekord en die wil om ons gemeenskap op te lig? Nie partylogo’s nie, maar bekwame, verantwoordbare kandidate.
Soos “TakeNote Community Leader Mr George” onlangs op Facebook geskryf het, in sy oproep vir politieke debat oor gemeenskappe in Wes-Kaapse munisipaliteite:
- Dit is nie oor partye nie; dit is oor die individuele kandidate wat ons kies wat op grondvlak moet lewer. Kom ons organiseer gemeenskapsopenbare vergaderings, waar inwoners direkte vrae kan vra en alle kandidate moet openlik antwoord.
- Geen lang toesprake nie; net reguit antwoorde oor dienslewering, werkskepping, infrastruktuur en plaaslike ekonomiese groei.”
- Dit is tyd om klagtes opsy te skuif en op te tree.
Gemeenskapsvergaderings waar kandidate op hul meriete beoordeel word, kan die verskil maak. Kies leiers op grond van vermoë, rekord en duidelike planne – nie blote partytrou nie.
- Jongmense, julle het die krag
- Julle wat nou volwassenes is:
- Julle stemme tel.
- Julle toekoms is op die spel.
As julle saamstaan, kan julle die verdeeldheid breek en eis dat plaaslike leiers werklik na julle belange omsien. Ouers, moedig julle kinders aan om betrokke te raak pleks van net te kla.
Hopefield en baie ander Wes-Kaapse dorpies het die potensiaal om te floreer. Maar dit begin by ons – die inwoners. Kom ons stop die siklus van beloftes en teleurstelling. Kom ons organiseer, praat saam en stem slim in November 2026.
Die Vraag: Wie in jou area is bereid om so ‘n gemeenskapsvergadering te help reël?
Laat ons weet – Die tyd vir werklike verandering is nou.
Hierdie artikel weerspieël die gevoelens en kommer van baie inwoners.
CCN nooi alle partye en kandidate uit om deel te neem aan konstruktiewe gesprekke vir die goeie van ons gemeenskappe.
Maak soos diè skrywer wat sy/haar kommer aan CCN gerig het, deur die “Contact Us” vorm ingevul het, maar gevra het om annoniem te bly.
Click op die link en deel u mening, wat dink u? https://ccnews.co.za/contact-us/