Met DMRE, Tronox en rolspelers
CCN Redakteur – George April
LUTZVILLE:- Die Lutzville Gemeenskapskomitee het sy waardering uitgespreek teenoor die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne (DMRE), Tronox, Matzikama Munisipaliteit en ander rolspelers wat Donderdag aan ‘n gesamentlike gesprek deelgeneem het.
Volgens die komitee was die vergadering konstruktief, respekvol en produktief en het dit ‘n waardevolle geleentheid geskep vir oop en eerlike gesprekke oor aangeleenthede wat die Lutzville-gemeenskap raak.
Die komitee sê hy is bemoedig deur die positiewe gesindheid waarin die gesprekke plaasgevind het en glo dit is ‘n belangrike stap in die rigting van sterker samewerking, beter kommunikasie en die soeke na volhoubare oplossings vir uitdagings waarmee die gemeenskap te kampe het.
Tydens die vergadering is daar ooreengekom dat al die betrokke partye binne die volgende 14 dae weer sal vergader. Die opvolgvergadering sal gebruik word om terugvoer te gee oor die vordering wat gemaak is, uitstaande kwessies verder te bespreek en die gesamentlike proses voort te sit.
In die lig van hierdie ooreenkoms het die Lutzville Gemeenskapskomitee aangekondig dat daar nie op hierdie stadium ‘n openbare gemeenskapsvergadering gehou sal word nie. Die komitee meen dit is in die beste belang van die gemeenskap om eers die opvolgproses af te handel voordat verdere terugvoer aan inwoners gegee word.
Sodra die opvolgvergadering afgehandel is, sal die komitee ‘n openbare vergadering belê waartydens ‘n volledige verslag aan die gemeenskap voorgelê sal word. Inwoners sal dan ook die geleentheid kry om vrae te stel en terugvoer oor die uitkomste van die gesprekke te ontvang.
Die komitee het sy dank uitgespreek teenoor al die rolspelers vir hul tyd, waardevolle bydraes en bereidwilligheid om deur konstruktiewe dialoog saam te werk.
Die Lutzville Gemeenskapskomitee het sy verbintenis herbevestig om die belange van die gemeenskap met integriteit, deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordelikheid te dien.
Hierdie ontwikkeling volg ná weke van spanning tussen die gemeenskap en Tronox, waartydens vergaderings nie plaasgevind het nie en vreedsame betogings gehou is. Die jongste gesprek word deur die komitee as ‘n positiewe deurbraak beskou wat die weg kan baan vir beter samewerking tussen die gemeenskap, die mynmaatskappy en staatsinstellings.
CCN sal die ontwikkelinge rondom die opvolgvergadering en die vordering wat gemaak word, noukeurig monitor en daaroor verslag doen.

