DA se hofsaak teen begroting wek vrae oor hul rol in GNU
Berig – George April
HOPEFIELD:- Die Demokratiese Alliansie (DA) se besluit om die regering hof toe te neem oor die 2024-begroting het hewige reaksie ontlok.
Veral onder gewone Suid-Afrikaners wat voel dat die party besig is met politieke speletjies, eerder as om konstruktief deel van die regering van nasionale eenheid (GNU) te wees.
Die kern van die DA se beswaar is die verhoging van belasting, insluitend die 1% verhoging in BTW. Hulle voer aan dat die belastingmaatreëls Suid-Afrikaners verder finansieel sal benadeel. Maar baie Suid-Afrikaners wat op straat geraadpleeg is, stem nie saam met die DA se standpunt nie.
“Ek verstaan nie waarom hulle nou skielik teen die begroting veg as hulle self deel is van die regering nie,” het een inwoner gesê. “‘n 1% BTW-verhoging is nie ideaal nie, maar as dit nodig is om die ekonomie te stabiliseer, moet ons dit oorweeg.”
‘n Ander persoon het opgemerk: “As die DA ‘n probleem met die begroting het, hoekom het hulle nie sterker standpunt ingeneem tydens die onderhandelinge nie? Nou wil hulle hof toe hardloop, dit lyk vir my net soos politiekery.”
Die DA se optrede laat vrae ontstaan oor hul ware toewyding tot die GNU, en of hulle werklik ‘n verenigde regering wil ondersteun, of bloot hul eie politieke agenda dryf. Met die hofsaak hangende, bly dit duidelik dat die party se optrede ‘n verdeeldheid in die samewerking tussen koalisievennote kan skep.
Die vraag bly – Is hierdie regstappe regtig in die belang van die mense, of is dit bloot ‘n poging om politieke punte te wen?

