Na Aanklagtes Teen Wetstoepasings beamptes
13 Julie 2025
Uniegebou, Pretoria
Ek spreek u vanaand toe oor ’n aangeleentheid wat van uiterste belang is vir die veiligheid van ons land, die integriteit van ons wetstoepassings agentskappe, en die sekuriteit van ons mense.
Op Sondag 6 Julie 2025 het lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, Provinsiale Kommissaris van die SAPD in KwaZulu-Natal, tydens ’n mediakonferensie ernstige bewerings gemaak oor die bestaan van ’n gesofistikeerde kriminele sindikaat wat na bewering die strukture van wetstoepassing en intelligensie in Suid-Afrika geïnfiltreer het.
Lt.genl. Mkhwanazi het beweer dat die Minister van Polisie ingemeng het by sensitiewe ondersoeke, en saamgespan het met sakemanne, insluitend ’n beskuldigde van moord, om die span wat politieke moorde ondersoek in KwaZulu-Natal, te ontbind.
Hy het ook onthul dat ’n ondersoek in Gauteng ’n sindikaat blootgelê het wat glo deur ’n dwelmkartel beheer word, en waarin politici, SAPD-lede, metropolisiëringseenhede, korrektiewe dienste, aanklaers, regslui en sakelui betrokke is.
Hierdie bewerings raak die kern van ons Grondwet, die oppergesag van die reg en nasionale sekuriteit.
Indien waar, ondermyn dit die vertroue van Suid-Afrikaners in die vermoë van die polisie om hulle te beskerm en misdaad doeltreffend te bekamp. Ons mense is bekommerd oor die toename in korrupsie, gewelddadige misdaad, bendegeweld, ontvoerings, konstruksiemafia-aktiwiteite en geslagsgebaseerde geweld. Terwyl ons die stryd teen misdaad verskerp, is dit noodsaaklik dat ons die integriteit en geloofwaardigheid van wetstoepassingsagentskappe beskerm.
Ek stel daarom ’n regterlike kommissie van ondersoek aan onder leiding van waarnemende adjunk-hoofregter Mbuyiseli Madlanga. Hy sal bygestaan word deur advokate Sesi Baloyi SC en Sandile Khumalo SC.
Die Kommissie sal ondersoek instel na die beweerde infiltrasie van wetstoepassings-, intelligensie- en regsprekende instellings deur kriminele sindikate.
Onder meer sal die Kommissie ondersoek instel na:
- Belemmering of manipulering van ondersoeke
- Betrokkenheid van senior amptenare in misdade of die verkryging van voordeel daardeur
- Intimidasie of verwydering van klokkenluiders
- Versuim om op geloofwaardige intelligensie op te tree
Instellings onder die loep sluit in: die SAPD, Nasionale Vervolgingsgesag, Staatsveiligheidsagentskap, Regbank, en metro-polisiedienste van Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane.
Die Kommissie sal ook kyk na moontlike betrokkenheid van lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag en sal aanbevelings maak vir vervolging, dissiplinêre stappe en institusionele hervorming.
Interimverslae sal na drie en ses maande ingedien word, met ’n finale verslag wat aan die President, Speaker van die Nasionale Vergadering en die Hoofregter voorgelê sal word.
Ten einde die Kommissie se werk nie te belemmer nie, het ek besluit om die Minister van Polisie, mnr. Senzo Mchunu, met onmiddellike effek met verlof te plaas. Hy het onderneem om ten volle saam te werk met die Kommissie.
Ek het professor Firoz Cachalia as waarnemende Minister van Polisie aangestel. Hy is ’n professor in regte aan die Universiteit van die Witwatersrand en voorsitter van die Nasionale Antikorrupsieraad.
Die Kommissie word ingestel teen die agtergrond van beduidende vordering in die versterking van wetstoepassingsagentskappe, met eenhede soos die Spesiale Ondersoekeenheid en die Batebeslagleggingseenheid wat reeds impak maak.
Ons sal verseker dat die SAPD en ander agentskappe hul werk sonder ontwrigting kan voortsit terwyl die Kommissie sy werk verrig.
Ek doen ’n beroep op alle lede van wetstoepassings- en sekuriteitsdienste om hul plig met integriteit voort te sit, en op alle Suid-Afrikaners om die Kommissie te steun en inligting te verskaf waar toepaslik.
Met die instelling van hierdie Kommissie bevestig ons ons verbintenis tot die oppergesag van die reg, deursigtigheid en aanspreeklikheid – vir ’n veiliger Suid-Afrika vir almal.
Ek dank u.
UITGEREIK DEUR DIE PRESIDENSIE VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
www.thepresidency.gov.za


