Vir beweerde verkragting van Broodkraal-vrou
MOORREESBURG – Die hofverskyning van twee polisiebeamptes, wat van verkragting aangekla word, het Dinsdag groot ongelukkigheid onder die gemeenskap veroorsaak.
Die twee Moorreesburg polisielede het reeds Maandag in die hof verskyn, waarna hulle uitstel gevra het, omdat hulle prokureurs nie beskikbaar was diè betrokke dag nie. Die beamptes word daarvan beskuldig dat hulle ‘n vrou van Broodkraal ontvoer en verkrag het, nadat hulle haar ‘n saamrygeleentheid aangebied het.
Volgens ‘n ooggetuie wat vanoggend (Woensdag) met Cape Coast News gesels het, was daar gister groot verontwaardiging oor die spesiale behandeling wat die beskuldigdes ontvang het. “Mense was baie ongelukkig en het luidkeels protes aangeteken”. “Die beamptes se familielede het vir hulle kos, chips en ander lekkernye gekoop, asof hulle op ‘n vakansie gaan”. “Hoekom moet hulle so ‘n spesiale behandeling kry, as hulle van ‘n ernstige misdaad aangekla word?” het die ooggetuie gevra.
“Verder het die gemeenskap ook beswaar gemaak teen die feit dat die beskuldigdes toe nog komberse en kussings ook ontvang het”, iets wat as ongewoon vir gevangenes beskou word”. “Oral in die hofgebou is daar plakkate wat duidelik aandui dat gevangenes nie private kos of geriewe vanaf die publiek mag ontvang nie,” het ‘die inwoner van Moorreesburg bygevoeg..
Volgens bronne is die polisiebeamptes met ‘n vangwa na die hof gebring, maar die voertuig se roete is omseil om te verhoed dat die publiek hul gesigte sien. “Ek glo hulle is lank voordat hulle die gevangenis bereik het, oorgelaai, sodat hulle voor in die voertuig kon sit,” het die inwoner van Rosenhof beweer.
Die twee beskuldigdes verskyn weer more (Woensdag) in die hof vir ‘n uitkennings parade. Intussen het die hof bevestig dat die formele borgtog aansoek vir Dinsdag, 24 Februarie 2025, geskeduleer is.
Besonderhede oor die beweerde voorval
Volgens Phaladi Shuping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (IPID), is die twee polisiebeamptes op 15 Februarie 2025 in hegtenis geneem.
Die beweerde verkragting het glo op 8 Februarie 2025 plaasgevind op ‘n grondpad naby Moorreesburg. Volgens bewerings het die polisiebeamptes ‘n 27-jarige vrou, wat van haar werkplek na haar kêrel se huis op pad was, ‘n saamry geleentheid aangebied in ‘n staatsvoertuig. Hulle het haar toe na ‘n afgeleë plek geneem en na bewering meer as vyf keer verkrag, insluitend om haar te dwing om orale seks te verrig. Daarna het hulle haar glo vyf biere gegee voordat hulle haar afgelaai het.
Gemengde reaksies van die gemeenskap
Hoewel baie lede van die Moorreesburg gemeenskap woedend is oor die voorval, is daar ook sommige wat twyfel oor die skuld van die beamptes.
“Daar is soveel verskillende weergawes van die storie, en sommige mense glo eenvoudig nie dat hierdie polisiebeamptes so iets kon doen nie,” het ‘n bron genoem.
“Beide die beskuldigdes is in Desember 2024 getroud, het verskeie inwoners vertel, vir wie Cape Coast News genader het vir inligting. Een van die beamptes was glo net drie maande in diens in Moorreesburg, toe die voorval plaasgevind het. Die ondersoek duur voort, en die gemeenskap hou die verrigtinge noukeurig dop in die hoop op geregtigheid vir die slagoffer.

