Terwyl hy Geslaap het.
Berig – George April
HEIDEVELD – Die gemeenskap is in rou ná die tragiese dood van Sharief Petersen (55), wat Woensdagoggend vroeg doodgeskiet is, terwyl hy in ’n geparkeerde voertuig geslaap het.
Die voorval het omstreeks 05:00 in Zuurbergstraat plaasgevind, waar Petersen in ’n werktuigkundige se motor oornag het om die area teen inbrake te help beveilig.
Volgens inwoners was Petersen ’n vredeliewende man en nie by bendegeweld betrokke nie. Hy was algemeen bekend as “The Sheriff” , ’n bynaam wat hy gekry het vir sy poging om die strate skoon te hou en ’n positiewe rolmodel vir jongmense te wees. Verskeie jong mense het na hom opgekyk en hul woede en hartseer uitgespreek oor die sinnelose wyse waarop hy dood is.
Sy broer, Shaun Petersen, het gesê dat die polisie bevestig het Sharief is met sy hande nog in sy sakke gevind, ’n aanduiding dat hy waarskynlik geslaap het en dus nie bewus was van die aanval nie. “Miskien het hy nie eers pyn gevoel nie,” het Shaun hartseer bygevoeg.
Polisiewoordvoerder Sersant Wesley Twigg het bevestig dat die Manenberg-polisie ’n moordsaak ondersoek.
Die owerhede doen ’n beroep op enigiemand met inligting om Crime Stop by 08600 10111 te skakel of om die MySAPS-selfoontoepassing te gebruik om anoniem inligting deur te gee.
