VF Plus Kry Steun teen Stad Kaapstad se Tariewe
CCN Nuus
Kaapstad:- ’N Plaaslike belastingbetaler het in ’n sterk woordebrief sy steun uitgespreek vir die VF Plus en hul betrokkenheid by die hofsaak teen die Stad Kaapstad.
Die Suid-Afrikaanse Eiendoms eienaars vereniging (SAPOA) het onlangs ’n regsgeding aanhangig gemaak om drie tariefverhogings wat deur die DA-beheerde stadsraad ingestel is, ongeldig te laat verklaar.
Volgens die skrywer van die brief, wat verkies om anoniem te bly, is hy bly dat ander gemeenskapsgroepe soos die Cape Town Collective Ratepayers Association, ook beplan om by die hofaksie aan te sluit.
“Ek was my hele lewe lank ’n ondersteuner van die DA, maar hulle druk nou elke sent uit die middelklas uit met tarief verhogings en ekstra heffings vir basiese dienste,” skryf hy.
Die brief weerspieël die groeiende frustrasie onder inwoners oor wat beskryf word as ’n toenemende finansiële las. Die DA word daarvan beskuldig dat hulle voordeel trek uit hul gevestigde steunbasis in die stad.
“Dit is duidelik dat die DA gemaklik geraak het die afgelope paar jaar, en nou begin hulle hul eie kiesers uitbuit. Genoeg is genoeg,” lui die brief verder.
In ’n opvallende stelling sê die skrywer dat hy sy politieke lojaliteit verander: “Ek gaan van vandag af my stem aan die VF Plus gee, en ek gaan my bure oortuig om dieselfde te doen.”
Die VF Plus het in reaksie op soortgelyke griewe reeds hul steun vir SAPOA se regsaksie bevestig en belowe om namens belastingbetalers op te tree.

