Verslaggewer – Isaac Cloete
SPRINGBOK:- Die Calvyn Protestantse Kerk van Suid-Afrika (CPK) het Woensdag sy 75ste bestaansjaar gevier, ’n merkwaardige mylpaal vir ’n kerk wat teen groot teenkanting gestig is.
Die hoofsetel en moederkerk in Athlone, Kaapstad, bly vandag ’n sentrum van geloof vir sowat 20 000 lidmate versprei oor vier ringe: Athlone, Komaggas, Paarl en Sarepta.
Die CPK is oorspronklik op 15 Oktober 1950 gestig deur dr Izaak David Morkel en ds WA September. Morkel het destyds die NG Sendingkerk verlaat weens sy teenkanting teen apartheid, en saam met September die nuwe kerk begin. Hulle het te midde van dreigemente, teenkanting en beledigings voortgegaan, ten spyte van voorspellings dat die kerk net ses maande sou oorleef.
Binne enkele jare het die CPK uitgebrei en nuwe gemeentes gestig, onder meer in Komaggas, naby Springbok, in die Noord-Kaap. Ds Christo Present dien tans as herder van dié gemeente. Met verloop van tyd het ander gemeentes rondom Kaapstad ontstaan, maar soos baie kerke vandag, ervaar die CPK ’n afname in lidmate en bywoning van dienste. Ds Edward Swartbooi het verlede Sondag in Bergsig, naby Springbok, hierop gewys en gesê:
“Daar is ’n tendens in hoofstroomkerke, en nie net die CPK nie, dat lidmate drasties gedaal het. Dit raak veral die CPK van Bergsig direk.”
Hierdie daling het ook Namibiese gemeentes van die Komaggas-ring geraak, waar Swakopmund en Windhoek stagneer. ’N oudit van die CPK het gelei tot ’n besluit om hierdie gemeentes moontlik onder die Rhynse Kerk van Namibië voort te laat gaan. Daar is ook gesprekke met die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) oor ’n moontlike samesmelting in die toekoms.
Ten spyte van uitdagings staan die CPK in die ander drie ringe steeds sterk en skryf die kerk se volharding toe aan die krag en geloof van die Hemelse Meester. Die huidige moderator, ds Steven-John Bam, beskryf die 75ste verjaarsdag as ’n wonderlike mylpaal en loof Morkel en September vir hul onverskrokkenheid destyds. Oud-moderator en emeritus-leraar, ds Ron Armstrong, voeg by:
“15 Oktober 1950 was ’n merkwaardige dag – In die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse kerk staan dit opgeteken as die Stigtingsdag van die CPK.”
Foto’s verskaf

