Verslaggewer – George C April
Kaapstad:- Verskeie skokkende voorvalle van geweld het vandag die Wes-Kaap geruk, met vier afsonderlike insidente wat polisie en gemeenskappe in spanning gelaat het.
In Firgrove, naby Somerset-Wes, is ’n vrou vroeër vanoggend noodlottig geskiet buite haar woning in Wineryweg. Volgens bronne het die polisie op die toneel gereageer waar verslae familielede en bure in trane saamgedrom het. Die motief vir die skietery is nog onbekend, en ondersoeke duur voort.
Intussen is polisie ook ontbied na ’n dodelike steekvoorval in Druryweg, Vrygrond, waar ’n man glo met ’n skerp voorwerp aangeval is. Nooddienspersoneel het op die toneel gereageer terwyl SAPD die area beveilig het.
’n Derde voorval het in Zwelenthemba plaasgevind op 26 Oktober 2025, toe ’n man voor Dani’s Café doodgesteek is ná ’n rusie oor geld. Ooggetuies beweer die verdagte het ’n okapi gebruik en die slagoffer in die bors en aan die linkerkant van sy kop gesteek. Hy is op die toneel oorlede. Die verdagte is dadelik gearresteer en het reeds in die hof verskyn. Die saak is tot 3 November 2025 uitgestel.
Laastens is SAPS en ambulansdienste vanmiddag ontbied na Saddlestraat in Eureka Estate, waar ’n man ernstig gebloei het ná nog ’n steekvoorval. Sy toestand was teen druktyd onbekend.
Die jongste voorvalle beklemtoon die groeiende kommer oor geweld en openbare veiligheid in verskeie Kaapse gemeenskappe. SAPD versoek enigiemand met inligting oor enige van die sake om dringend na vore te kom.

