Kom ons gee O/19-jeug ’n kans
HOPEFIELD:- Baie talentvolle jongmense in die Weskus Distrik val ná skoolouderdom tussen die krake.
Sommige voltooi nie skool nie, ander se omstandighede verander, en baie verloor eenvoudig toegang tot georganiseerde sport. By baie van hierdie jongmense is daar egter steeds groot talent, drome en potensiaal.
Daarom wil West Coast Sports Solutions (WCSS) NPO, in samewerking met JPC Foundation & 7’s Rugby, ’n groot verskil maak.
Die organisasies werk saam aan planne vir die vorming van O/19 netbal- en 7’s-rugbyspanne, spesifiek vir jongmense van 17, 18 en 19 jaar oud (geen spelers jonger as 17 gedurende 2026 nie). Die inisiatief sluit ook jongmense in wat nie meer skoolgaan nie.
Jaarliks hou JPC Foundation & 7’s Rugby groot jeugsportdae in die Wes-Kaap, en daar word tans beplan vir ’n O/19-toernooi gedurende September op ’n plattelandse dorp.
Omdat die streek so groot is, is die oorspronklike plan om ’n streekspan te kies voorlopig opsy geskuif, tensy borgskap verkry word. Die huidige beplanning is dat die drie beste spanne van die September-plattelandse toernooi later dieselfde maand die geleentheid sal kry om in Bellville teen top WP O/19-spanne deel te neem tydens die jaarlikse JPC-sportdag, waar groot pryse op die spel sal wees.
WCSS benodig nou die samewerking van:
• Rugbyklubs
• Netbalklubs
• Sportorganisasies
• Gemeenskapsprojekte
• Jeugontwikkelingsgroepe
Die doel is om genoeg spanne in die streek te vorm sodat wedstryde reeds vanaf einde Junie gespeel kan word. Selfs oefen- of voorwedstryde, insluitend 15-man rugby, kan deel vorm van die voorbereiding.
Ons rig ook ’n spesiale beroep aan organisasies om jongmense wat nie meer skoolgaan nie, nie af te skryf nie.
“Ons het nie die reg om jongmense te oordeel wat nie meer skoolgaan nie, want ons ken nie altyd hulle omstandighede nie.
Elkeen verdien nog ’n kans.”
Organisasies en klubs wat ernstig belangstel om saam te werk en ons jeug ’n geleentheid te gee, kan kontak maak via WhatsApp:
George April – 067 074 5040
Kom ons bou saam aan ’n toekoms waar geen jong sporttalent agtergelaat word nie.

