LÊ IN MENSE MET KENNIS EN VISIE
CCN Redakteur & Verslaggewer – George C April
PIKETBERG:- Wat maak Bergrivier Munisipaliteit anders – Wat maak dié munisipaliteit dikwels meer suksesvol as baie ander?

Dis ’n vraag wat ek oor die jare al baie aan inwoners, sakemense en selfs amptenare gevra het, veral omdat CCN Online al verskeie suksesverhale oor die munisipaliteit gepubliseer het.
Een antwoord kom telkens na vore:
Bergrivier stel mense met kennis, ervaring en visie in belangrike poste aan. Nou begin nóg ’n storie wat daardie punt verder beklemtoon.
Bergrivier Munisipaliteit het amptelik vir mnr. Carel van Niekerk aangestel as die nuwe Direkteur van Tegniese Dienste – ’n man met meer as 17 jaar se ervaring in ingenieurswese, infrastruktuur en projekbestuur.
Van Niekerk, wat oorspronklik van Pretoria afkomstig is, bring ’n sterk akademiese en professionele agtergrond na die Weskus. Hy het sy Nasionale Diploma in Siviele Ingenieurswese in 2007 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi, gevolg deur ’n Baccalaureusgraad in Tegnologie in Siviele Ingenieurswese aan die Durban Universiteit van Tegnologie in 2013.
In 2024 is hy ook as Professionele Ingenieurstegnoloog by die Engineering Council of South Africa (ECSA) geregistreer. Gedurende sy loopbaan het hy vir bekende ingenieursfirmas soos Aurecon en WSP Group Africa gewerk en aan groot infrastruktuurprojekte in Suid-Afrika én internasionaal deelgeneem. Van die projekte sluit onder andere die Contermanskloof-reservoir vir die Stad Kaapstad en infrastruktuurontwikkelinge by die Saldanha Bay Nywerheidsontwikkelingsone in.
Volgens Van Niekerk is Tegniese Dienste een van die belangrikste funksies binne plaaslike regering, omdat dit inwoners se daaglikse lewe direk beïnvloed. “Watervoorsiening, paaie, stormwater-infrastruktuur en onderhoudsdienste vorm die ruggraat van ’n funksionerende gemeenskap,” het hy gesê.
Hy glo infrastruktuurontwikkeling moet nie net dienslewering verbeter nie, maar ook ekonomiese geleenthede vir plaaslike besighede, opkomende kontrakteurs en klein ondernemings skep.
Van Niekerk sê sy doelwit is om ’n moderne, oplossingsgedrewe en toekomsgerigte Tegniese Dienste-afdeling te bou wat gereed is vir groei, klimaatsuitdagings en die veranderende behoeftes van gemeenskappe.
“Ek sien myself as die brug tussen munisipale beplanning en praktiese implementering op grondvlak,” het hy verduidelik.
Hy het ook beklemtoon dat beter tegnologie en slimmer interne stelsels noodsaaklik is om onnodige administrasie te verminder, sodat tegniese spanne meer tyd in gemeenskappe kan deurbring en diensleweringsprobleme vinniger kan aanspreek. Volgens hom bly mentorskap, personeelontwikkeling en aanspreeklikheid baie belangrik.
Buite die werksplek geniet Van Niekerk oopwater-swem en het hy ’n passie vir onderwys, wiskunde, tegnologie en voortdurende leer.
“Ek verstaan hoe belangrik betroubare infrastruktuur en konsekwente dienslewering vir elke huishouding, besigheid en gemeenskap binne Bergrivier is. Ek sien daarna uit om saam met die munisipaliteit, kollegas, belanghebbendes en inwoners te werk om ’n vooruitstrewende en volhoubare munisipaliteit vir die toekoms te bou,” het hy afgesluit.
Vir baie inwoners bevestig hierdie aanstelling weer waarom Bergrivier Munisipaliteit dikwels as een van die beter bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika beskou word , omdat kundigheid, ervaring en professionele bestuur steeds prioriteit geniet.

