Van Plaas 22 se titel-akte
Verslaggewer – Isaac Cloete
STEINKOPF: – Plaas 22 staan tans sentraal in ‘n toenemende geskil tussen inwoners van Steinkopf en die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling oor die toekoms van die gebied se grond.
Die omstredenheid het toegeneem nadat inwoners verneem het dat die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, na bewering beplan om die plaas op te deel en gedeeltes daarvan teen die einde van 2026 deur middel van titelaktes aan gemeenskappe in die Steinkopf-omgewing oor te dra.
Volgens gemeenskapsaktivis Deonay Balie, bestaan daar ernstige uitdagings rakende grondsake in Steinkopf. Sy voer aan dat inwoners nie voldoende deur regeringsamptenare oor die proses ingelig is nie.
“Die regering is besig om ons grond onder ons neuse uit te verkoop, daarom is hierdie ‘n ernstige saak vir ons. Ons sal wakker moet skrik.”
Balie het ook gesê, ‘n gemeenskaplike Eiendomsvereniging (CPA) is reeds in 2019 gestig met die doel om die gemeenskap se grond te bestuur.
Volgens haar bestaan daar egter kommer onder sommige inwoners dat die CPA nie die breër Steinkopf-gemeenskap verteenwoordig nie. Daar word verder beweer dat die CPA bereid is om die gewysigde titel-akte namens die gemeenskap te aanvaar.
Balie voer ook aan dat die gewysigde titel-akte na bewering groot gedeeltes van die oorspronklike grond uitsluit, insluitend gebiede waar waardevolle minerale, mynbou-aktiwiteite en vrugbare landbougrond geleë is.
Sy het ook gesê die Steinkopf-gemeenskap het op 3 Junie aanvanklik teen die voorgestelde titel-akte gestem, waarna ‘n skrywe aan die minister gerig is om hul besware uiteen te sit.
Volgens Balie het die gemeenskap op 17 Junie hul besluit verander nadat hulle meegedeel is dat die grond geleidelik, in fases, aan die gemeenskap oorgedra sou word. Sy beweer die huidige titel-akte sluit hoofsaaklik Steinkopf en enkele omliggende gebiede, waaronder Vioolsdrift, Rooiwal, Bulletrap en Goodhouse, in.
Om die huidige proses te probeer stuit, is petisies tans in verskeie dele van die gebied in omloop. Balie sê die doel van die petisie is om die beoogde oordrag van Plaas 22 se titel-akte op te skort totdat ‘n regverdige, deursigtige en wettige proses gevolg is.
“Dit moet eers wag totdat ‘n regverdige, deursigtige en wettige proses gevolg is en die gemeenskap behoorlik geraadpleeg is. “Hierdie is ‘n vreedsame inisiatief ten bate van die hele Steinkopf-gemeenskap. Dit is nie teen enige persoon, politieke party of organisasie gerig nie.
“Niks oor ons, sonder ons nie.”
Volgens Balie is die herstel van die oorspronklike gemeenskapsgrond van Steinkopf die groep se grootste prioriteit.
“Ons, as inwoners van die Steinkopf-gebied, verwerp die titel-akte vir Plaas 22”. “Ons sal nie aanvaar dat ons voorvaderlike grond stukkend teruggegee word nie.
“Geregtigheid beteken om ten volle terug te gee wat weggeneem is.”
Sy beklemtoon verder dat die inisiatief volgens haar deur inwoners uit verskillende politieke, godsdienstige en beroepsagtergronde ondersteun word.
“Ons groep bestaan uit mense van verskillende agtergronde, politieke affiliasies, beroepe en kerke wat besluit het om hulle verskille opsy te skuif en as een gemeenskap saam te staan.
“Hierdie is ‘n gemeenskapsinisiatief, deur die gemeenskap vir die gemeenskap.
“Ons vra dat almal hierdie saak op die feite beoordeel en saam met ons werk om te verseker dat die regte proses gevolg word.”
Volgens Balie het sowat 800 inwoners reeds die petisie onderteken.
Ander inwoners verskil, nie alle inwoners deel egter dieselfde standpunt nie.
Lionel Bok, ‘n inwoner van die gebied, meen baie mense het voorheen min belangstelling in die CPA se werksaamhede getoon.
“Daai klomp lawaaimakers soek stemme”. “Hulle soek nou stoele en probeer die dinge verpolitiseer.”
Cedric Hartnick voer weer aan dat die betrokke grond onder die bepalings van die Transformation of Certain Rural Areas Act (TRANCRAA) val.
“Daai gronde behoort aan die inwoners wat daar woon.
“Al die TRANCRAA-gronde is in ‘n trust en is daarom onroerbaar.”

