‘N begrafnis wat ou wonde oopgemaak het.
Deur George C. April
Ek het Saterdag na Moorreesburg gereis om my oom die laaste eer te bewys.
Soos dikwels ná ‘n begrafnis gebeur, het die familie bymekaar gekom om herinneringe te deel. Dit was tydens daardie gesprekke dat ek dinge oor my eie familie gehoor het wat ek nooit tevore geweet het nie.
My oupa en ouma, wat my grootgemaak het, kon nie lees of skryf nie. My oupa het sy hele werkende lewe by PVD op Langebaanweg gewerk en elke dag met sy fiets van Portergeesfontein af werk toe gery om vir sy gesin te sorg.
Tot my verbasing het my suster my tydens die familiegesprek vertel dat hy, volgens wat destyds in die familie bekend was, ná sy aftrede nooit enige aftreegeld ontvang het nie.
Die gesprek het daarna verder gegaan. Ek het gehoor hoe familielede vertel dat my oorlede oom se pa – my ouma se broer – sy hele lewe op ‘n plaas gewerk het en dat daar geglo is hy het nooit die pensioen ontvang waarvoor hy gewerk het nie.
Nog ‘n broer, wat ook sy lewe op ‘n plaas naby Velddrif deurgebring het, het volgens die familie ook sonder enige aftreevoordeel sy werk afgesluit.
Al hierdie mense is lankal oorlede. Ek het eers gister van hierdie verhale gehoor.
Dit het my laat besef hoeveel stories saam met die ouer geslag begrawe is. Baie mense het eenvoudig nooit oor hul swaarkry gepraat nie.
Ek het nog altyd met warmte geskryf oor die plaaslewe waarin ek grootgeword het. Daar was inderdaad goeie herinneringe. Maar nou besef ek daar was ook ‘n ander werklikheid – een waarin sommige plaaswerkers hul hele lewe hard gewerk het, maar volgens hul families nooit die vrugte van daardie jare gepluk het nie.
Dit is nie ‘n poging om iemand te veroordeel of verdeeldheid te skep nie. Dit is eerder ‘n herinnering dat die geskiedenis van plaaswerkers ook vertel moet word. Nie net die mooi stories nie, maar ook die moeilikes.
Ongelukkig behoort hierdie onderwerp nie net aan die verlede nie.
Nog vandag sien ons gereeld berigte op sosiale media van plaaswerkers en hul gesinne wat van plase afgesit word. Elke saak het sy eie feite en omstandighede, maar dit herinner ‘n mens daaraan dat die verhouding tussen grondbesitters en plaaswerkers steeds ‘n sensitiewe en belangrike onderwerp in Suid-Afrika is.
Hierdie gesprekke het my ook teruggevoer na ‘n persoonlike ervaring. In 2019 het ek R15 000 betaal vir my oorlede vrou se grafsteen. Die grafsteen is nooit opgerig nie. Daar was destyds berigte dat die saak hof toe is en dat mense in hegtenis geneem is.
Ek het egter verskeie navrae aan die polisie gerig om uit te vind wat die uiteinde van die saak was, maar ek het nooit enige terugvoering ontvang nie.
Daardie stilswye het my lank gepla.
Miskien was dit juis daarom dat die gesprekke ná my oom se begrafnis my so diep geraak het.
Dit het my laat besef hoe baie gewone mense se stories nooit opgeteken word nie. Hoe baie werkers, ouers en grootouers eenvoudig verdwyn uit die geskiedenis sonder dat iemand hul lewensverhale vertel.
Ons kan nie die verlede verander nie. Maar ons kan wel seker maak dat die stemme van daardie mense nie heeltemal stil raak nie.
Redakteursnota: Hierdie rubriek weerspieël die skrywer se persoonlike herinneringe en familievertellings soos dit tydens ‘n familiebyeenkoms gedeel i s. Waar historiese gebeure beskryf word, word dit as familie-inligting weergegee en nie as bevindings van ‘n hof of ondersoek nie.
