Opposisie is altyd vinnig met kritiek, maar waar is die dade?
KAAPSTAD:- Met die Minister van Finansies se begrotingsrede vandag, was die opposisie vinnig om te reageer.
Soos te verwagte, het verskeie partye hul misnoeë uitgespreek en skerp kritiek gelewer op hoe die land se geld bestuur word.
“Hierdie begroting doen niks om armoede te verlig nie,” het een opposisielid gesê. ’n Ander het verklaar: “Ons ekonomie gaan agteruit en daar is geen werklike oplossings in. hierdie toespraak nie.” Sommige het selfs gewaarsku dat Suid-Afrika op ’n finansiële afgrond afstuur.
Hierdie stellings klink kragtig, en dalk selfs waar, maar die vraag bly: Wat doen hierdie partye self om sake te verbeter? Dit is maklik om te sê iets werk nie, maar moeiliker om self planne op die tafel te sit en dit te laat werk.
Vir die gewone mens, veral hier op die platteland, voel dit soms of politici in hul eie wêreld leef. Terwyl hulle mekaar aanval oor syfers en belastingkoerse, bly mense sukkel met hoë kospryse, swak dienslewering en ’n gebrek aan werks geleenthede.
Suid-Afrikaners het genoeg gehad van net praat,, Dit is tyd dat gemeenskappe begin vrae vra. Waar is die dade?
Waar is die regte oplossings, en belangriker, wie is regtig bereid om die harde werk te doen om ons ekonomie en ons dorpe te verbeter?
