En die Storie Agter Die Storie
CCN Verslaggewing
In Hopefield, die oudste dorp aan die Weskus, staan die plakkate reeds 16 name – 16 partye. – Een klein gemeenskap van minder as sesduisend siele.

Die name glim op die papier, sommige van killometers buite Hopefield: Hannes van Wyk, Avewe Vincent Mxonyiwe, Jacobus Andries Coetzee, Susan Janice du Preez, Sihle Langa, Stacey-Lee Otto, Petro Grobler, David Bester, George Carel April, Montiesha Jasmien Makka, Flora Nathan, Jacobus Albertus Jesse Kotzé, Ian Roman Topp, Serena Lêhana van Alphen, Luazianne Menas, Ricardo Johan Titus.
- Almal wil dien.
- Almal beloof
En die mense kyk, soos hulle die afgelope twee-en-dertig jaar gekyk het, en vra stil: wat gaan nou anders wees?
- Die waarheid is hard, en dit sit nie op die plakkate nie.
- Dit sit in die huise waar die kinders nie meer skool toe gaan nie.
- Dit sit in die agterplaas-hokkies waar gesinne al meer as tien jaar wag.
- Dit sit in die stilte nadat meer as tweehonderd werkers by die Elandsfontein-myn einde November afgelê word.
Dit sit in die vrees oor die groot son- en waterstofprojek wat miljoene litters water per dag gaan vra, terwyl die Weskaap se damme na ’n byna reënlose seisoen, voor die winter al begin leegloop het.
En dit sit in die drie kruisies wat niemand ooit openlik noem nie.
Die eerste kruisie is die een op die stembrief. Die een wat mense sit omdat ’n kandidaat ’n goeie vriend is, of familie, of omdat die party se kleure mooi lyk op die plakkaat.
- Dit is die emosionele kruisie.
- Dit voel soos deelname.
- Dit voel soos hoop.
- Maar agter daardie kruisie lê ’n ander een, die een wat nie op papier kom nie.
Die tweede kruisie is die een wat die kinders dra.
Elke oggend ry vier busse vol kinders uit die buurdorpe na Hopefield se hoërskool. Die skool is vol, die plaaslike kinders, die eie kinders van die dorp, moet dikwels dieselfde pad in die teenoorgestelde rigting ry. Na Moorreesburg, na Vredenburg, met R1 350 per maand vir vervoer.
Vir baie gesinne is dit die verskil tussen kos op die tafel en ’n kind wat tuis sit.
- Die kinders wat tuis sit, word stil.
- Hulle word die onsigbares.
- Niemand praat graag daarvan nie, want armoede is ’n skande wat mense selfs onder mekaar toesmeer.
- Maar die regeringsreël is helder: sonder matriek is selfs die rakke in die winkels toe.
- Die toekoms verdonker, een kind op ’n slag.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se begroting vir 2026/27 is die grootste in die provinsie – R35,1 miljard.
- Daar is R2,7 miljard vir infrastruktuur.
- Hulle mik na 280 nuwe klaskamers en tien nuwe skole wat teen die begin van 2027 oop moet wees.
- Daar is 701 nuwe onderwysposte beplan.
- Die Rapid School Build-program word as ’n game-changer beskryf.
- Daar is skole gebou of in aanbou in plekke soos Darling, Lwandle, en daar is planne of vorige toekennings vir Vredenburg, St Helenabaai, Saldanha en selfs Malmesbury. Die Weskus-distrik het in die verlede voordeel getrek. Maar in die amptelike beplanning en die openbare aankondigings is daar geen spesifieke nuwe skool vir Hopefield self nie.
- Die druk bly, die toelatingskrisis in Hopefield is reeds openbaar: plaaslike kinders word uitgesluit terwyl busse van buite inry.
- Die vraag wat niemand hardop wil vra nie, is eenvoudig: hoeveel Hopefield-kinders gaan volgende jaar ’n plek hê?
- En die jaar daarna?
Die derde kruisie is die een wat die toekoms self trek, dit is die kruisie van stil afwagting.
Die myn het oopgegaan en mense het werk gekry. Die wat werk gekry het, het nie meer bekommer oor die wat tuis gebly het nie. Nou kom die groot groen projek; miljoene rande, beloftes van werk, ’n ligstraal vir die werkloses.
Maar dieselfde projek vra water in ’n streek waar kenners reeds van ’n waterkrisis praat.
- Dieselfde projek sit op land waar fynbos staan.
- Dieselfde projek bring onsekerheid vir die meer as driehonderd mense by Arnelia Farm wat vaste werk het.
- Die maatskappy beantwoord nie vrae nie.
- Die werkloses sê: ons het niks te verloor nie.
- Die wat al werk het, sê: ons het alles te verloor.
- En die gemeenskap verdeel, soos dit altyd verdeel wanneer beloftes groter is as die water in die damme.
Behuising is die ander stil seer:
Gesinne wat al meer as ’n dekade in agterplaastoestande woon. In die driejaar-begroting tot 2030 is Hopefield nie deel van Saldanhabaai Munisipaliteit se behuisingsplan nie. Langebaan se mense sit al langer, die groter dorpe kry voorkeur.
- Hopefield moet hoop op 2030–2033.
- Hoop is ’n dun ding wanneer die winter droog was en die kinders se skoolgeld nie betaal kan word nie.
- Dit is die storie agter die storie.
Die dorp het al drie burgemeesters opgelewer; vir die twee-en-dertig jaar wat Hopefielders al gestem het.
Vir twee-en-dertig jaar het die groot probleme, werkloosheid, behuising, skooltoegang, nie weggegaan nie.
Baie sê nou:
- ek gaan nie stem nie, dit is tydmors.
- Maar die antwoord is nie om die kruisie weg te steek nie.
- Die antwoord is om die ander twee kruisies ook te sien.
Die eerste kruisie is maklik.
Dit is die een wat jy sit omdat iemand jou ken, of omdat die belofte mooi klink. Die tweede kruisie is die een wat jou kind elke oggend dra wanneer hy of sy in die bus klim – of wanneer hy of sy tuis bly omdat daar nie geld of plek is nie. Die derde kruisie is die een wat die gemeenskap self moet dra: die keuse tussen korttermyn-werk en langtermyn-water; tussen beloftes van miljoene en die stilte van kinders wat nie meer skool toe gaan nie; tussen emosionele lojaliteit en die harde vraag of die kandidaat werklik antwoorde het op die seer wat nie op die plakkaat staan nie.
Die partye maak beloftes, die sosiale media vloei oor van waardigheid en toekoms.
Maar die kind wat tuis sit omdat die busgeld nie daar is nie, die gesin wat al tien jaar in die agterplaas woon, die werker wat sy vorige werk bedank het net om nou afgelê te word, die plaaswerker wat wonder of die nuwe projek sy vaste inkomste gaan drink, hulle is die storie.
Hulle is die werklikheid wat agter die plakkate sit.
Hopefield is nie net ’n lys van sestiene name nie. Dit is ’n gemeenskap wat elke dag die prys betaal van keuses wat lank gelede gemaak is, en van keuses wat nog gemaak moet word.
- Die drie kruisies is nie apart nie.
- Hulle hang aan mekaar.
- Die een wat jy sit op die stembrief, is die een wat bepaal of jou kind se tweede kruisie ligter of swaarder word.
- En die derde kruisie, die een van die toekoms word deur almal saam gedra, of niemand wil dit sien nie.
Die mense van Hopefield weet al lank wat swaarkry is en hulle weet wat dit is om te wag.
- Hulle weet wat dit is om te hoop op ’n myn, op ’n projek, op ’n begroting wat eendag dalk hulle kant toe kom.
- Maar die kinders se toekoms wag nie.
- Die water wag nie.
- Die leë klaskamers in die omliggende dorpe wag nie.
- En die stilte van die kinders wat nie meer skool toe gaan nie, word elke dag ’n bietjie harder.
Dit is die storie wat agter die storie gebeur – en nie omdat iemand dit nie wil toegee nie, maar omdat dit die waarheid is.
- Die plakkate sal verweer.
- Die beloftes sal vervaag.
- Maar die drie kruisies bly.
- Een op die papier.
- Een op die kind se skouer.
Een op die dorp se toekoms, en die vraag is nie meer of mense gaan stem nie.
