Detektief se Goeie Werk Oorskadu deur Online-aanvalle op sy Voorkoms

Die skuldigbevinding is die resultaat van ’n deeglike ondersoek deur detektief-onderoffisier Heinrich Matthys van die Calvinia Gesinsgeweld, Kindbeskerming en Seksuele Misdrywe (FCS)-eenheid.
Die saak het op 7 Maart 2023 begin nadat Matthys inligting ontvang het dat Fortuin onwettig in besit was van verskeie SASSA-kaarte, CPS-betalingskaarte en bankkaarte van ander mense. Verdere inligting het aan die lig gebring dat hy ’n onwettige geldonttrekkingsdiens bedryf het. Hy het geld namens kaarthouers onttrek en ’n fooi van ongeveer 50 sent vir elke rand gevra.
Rekords van die transaksies is in boeke en op rekenaar-toerusting by ’n perseel in Calvinia gehou wat as winkel én woonhuis gedien het. Tydens ’n deursoeking is verskeie SASSA-kaarte, dokumente, ’n skootrekenaar, drukker, liasseerkas, kaartmasjien en ander items van bewyswaarde in beslag geneem. Fortuin is later in hegtenis geneem.
Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het Matthys geloof vir sy professionaliteit, toewyding en deeglikheid wat tot die skuldigbevinding gelei het. Die polisie sê die saak toon hoe belangrik intelligensie-gedrewe polisiëring, deeglike ondersoeke en die behoorlike hantering van dokumentêre en elektroniese bewyse is – veral om kwesbare mense te beskerm wat van maatskaplike toelaes afhanklik is.
Sosiale media-reaksie: goeie werk, maar aanvalle op voorkoms
Ná die aankondiging het kommentare op Facebook nie net die skuldigbevinding gevier nie, maar ook die detektief se voorkoms geteiken. Party mense het negatiewe opmerkings oor sy gewig gemaak in plaas daarvan om die werk te erken.
Rozetta Kammies Williams het skerp teruggekap: “Geniepsige gebroedsels! Instede van die beampte bedank vir goeie werk gelewer, kraak julle sy menswees af. More oormore wil julle weer skel oor hoe sleg SAPS is. Volk, julle moet julle adder harte regkry.”
Sy het verder geskryf: “Kollega, dankie vir die diens. Ons weet hoe kwesbaar die minder gegoedes en oumense is. Ons ander dorpe se Kollegas kan notas neem by jou.”
Willem Du Bruyn het bygevoeg: “Well Done Noord Kaap dat julle ’n voorbeeld stel vir die ander dorpe. Hulle roei die arm mense heeltemal uit.”
Toe iemand opmerk dat dit “meestal net witmense” is wat ’n probleem met mense se gewig het, het Christa Kitta Kruger, ’n afgetrede SAPD-kaptein, geantwoord: “Ek is ook wit en was ’n kaptein in SAPD. Al 3 jaar afgetree. Die persoon se voorkoms keer hom duidelik nie om goeie werk te doen nie. Al nooit daaraan gedink dat hy vet is a.g.v. ’n siektetoestand nie. Ek het ook so vet geword a.g.v. Diabetes. Laat mens wonder oor jou karakter.”
Die reaksies beklemtoon ’n bekende patroon: wanneer polisielede wat oorgewig lyk in die openbare oog kom, selfs wanneer hulle goeie werk doen – word hul voorkoms dikwels harder aangeval as die misdaad self.
Vir die mense van Calvinia en die Noord-Kaap bly die kern van die storie egter die beskerming van toelaag-ontvangers teen uitbuiting.
Die skuldigbevinding stuur ’n duidelike boodskap dat sulke praktyke nie ongesiens sal verbygaan nie.
