Lewenslange tronkstraf dreig vir Moorreesburg-pa en seun in moordsaak.
Berig:- George April
MALMESBURY:- “Word julle skuldig bevind, kry julle lewenslank.” 
Dit was na bewering vanoggend die waarskuwende woorde in die Malmesbury Streekhof aan Christiaan Pieters en sy seun, Christiano Solomons, wat tereg staan vir die moord op Jenito Smith in 2022.
Pieters, wat tans ‘n gevangenisstraf uitdien in die Malmesbury Medium Gevangenis, en sy seun Christiano, wat op parool vrygelaat is, staan albei tereg op aanklag van moord. Dit is nie bekend waarvoor die pa tans tronkstraf uitdien nie. Die senior beskuldigde word aangekla omdat hy na bewering die moordwapen aan sy destyds 14-jarige seun verskaf het, wat Jenito noodlottig gesteek het.
Die hof het die saak uitgestel tot 19 Mei om die twee beskuldigdes kans te gee om regsverteenwoordiging te bekom. Beide het aangedui dat hulle aansoek gaan doen vir Legal Aid om hulle in die verhoor te verteenwoordig.
Hierdie saak het besonder lank geneem om uiteindelik in die hof te verskyn, deels weens ‘n vertraagde polisie-ondersoek. Die Smith-familie het lank gewag vir geregtigheid, en daar was ‘n stadium waar dit gelyk het asof die saak heeltemal stil sou raak. Dit was eers ná druk van gemeenskapaktivis Deon Carelse en volgehoue pogings van die oorledene se ma, Marinda Smith, dat die saak weer aandag gekry het.
Nou, met die saak uiteindelik voor die streekhof, hoop die Smith-gesin dat geregtigheid sal geskied vir hul seun. Die oorledene en die beskuldigdes is almal van Rosenhof, Moorreesburg, en die saak het groot belangstelling uit die gemeenskap gelok.
Enige nuus, stuur gerus ‘n WhatsApp na 067 074 5040


