Terwyl hulle vroue laat ly?
Berig – George April
VREDENDAL:- Pas nadat CCN vanoggend die storie oor die viktimisering van vroueregte gepubliseer het, het skokkende nuus deurgekom: Hector is reeds Vrydag onbepaald geskors.
Hierdie inligting is nie van Hector self verkry nie, in werklikheid weier sy om op enige navrae te gereageer. Inligting is via betroubare media konneksies bekom.
Hector, wat al sedert 2018 hulp soek nadat sy volgens betroubare bronne herhaaldelik binne haar werkplek verneder en geïntimideer is, het uiteindelik self die hof genader vir ‘n beskermingsbevel. In plaas daarvan dat haar klagtes ernstig opgeneem word, het verskeie hooggeplaaste leiers van die Matzikama Munisipaliteit skynbaar saamgespan om haar stil te maak.
Munisipale Bestuurder Lionel Phillips, Burgemeester Johan van der Hoven, en DA-raadslid Davine Cloete (Witbooi), wat blykbaar volgens bronne openlik die adjunkburgemeester ondersteun, teen wie die oorspronklike klagtes gerig is, staan nou in die publiek se kollig.
Cloete, wat self die stigter is van ’n organisasie wat glo opstaan vir vroueregte, het my as skrywer ná die eerste storie gedreig, en wou weet waar ek haar naam gekry het, hoewel haar steun aan haar mede-raadslid publiek bekend is.
Hoe verduidelik Cloete haar optrede? Hoe versoen sy haar sogenaamde stryd vir vroueregte met haar stilbly en selfs steun aan die onderdrukking van ’n vrou wat sê haar regte is erg geskend?
Dan is daar die Munisipale Bestuurder, Lionel Phillips, wat op 27 Mei voor die hof moet verskyn om te verduidelik waarom hy nie ingegryp het, toe Hector hulp gesoek het nie. Daar is ook geen aanduiding dat die regte prosedures rondom skorsing gevolg is nie. Geen klagstaat is uitgereik nie, en Hector het volgens bronne blykbaar telefonies van haar skorsing verneem, sonder enige duidelikheid oor hoe lank dit sal duur.
Intussen gaan die leiers van Matzikama voort om hul Moedersdag saam met hul gesinne te vier, maar sonder om ‘n vrou in hul eie geledere die minimum respek en regverdige behandeling te gun.
CCN vra weer: Wat is die Demokratiese Alliansie (DA) se standpunt oor die beskerming van vroulike werknemers binne munisipale strukture? En hoe lank gaan ander partye en leiers toekyk terwyl politieke magspeletjies belangriker as menswaardigheid geag word?
Hierdie storie gaan nie net oor Jakeline Hector nie, dit gaan oor ’n kultuur van stilte, magsmisbruik, en selektiewe solidariteit.

